Daar is by ’n ongelukstoneel op dagga ter waarde van ongeveer R33 500 beslag gelê.


Twee mans wat in ’n ongeluk betrokke was, is in hegtenis geneem nadat op en wakker verkeersbeamptes ’n groot hoeveelheid dagga met ’n geskatte waarde van R33 500 in hul besit gevind het.

Die beamptes het Maandag 28 Augustus reageer op ’n ongeluk by die spoorwegoorgang op die R316 in Caledon waar drie voertuie betrokke was. ’n Woordvoerder van die munisipaliteit het bevestig geen beserings is aangemeld nie.

“Met sy aankoms op die toneel het ’n oplettende beampte opgemerk dat twee tasse uit een van die voertuie wat in die ongeluk betrokke was, gehaal en in ’n vragmotor gelaai word,” aldus die woordvoerder.

“Die beampte het die bestuurders van albei voertuie genader en hulle beveel om die tasse uit te haal en oop te maak. Saamgeperste sakke vol dagga, wat 33,5 kg weeg en ongeveer R33 500 werd is, was in die tasse.”

Die 30-jarige bestuurder van die ligte voertuig en ’n burger van Lesotho is in hegtenis geneem en van handel in dagga aangekla. Die moontlikheid dat hy onwettig in die land is, word ook ondersoek.

Die verdagte en goedere waarop beslag gelê is, is vir verdere ondersoek aan die polisie oorhandig.

“Die Theewaterskloof-munisipaliteit sal nie enige onwettige dade in ons gebied duld nie. Ons beamptes is daaraan toegewy om ’n veiliger gemeenskap te verseker en waarde tot ons inwoners se lewens toe te voeg,” het die munisipaliteit se woordvoerder gesê.

Kontak die Theewaterskloof-munisipaliteit se operasionele sentrum by 080 021 4730. Dié nommer is tolvry.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article