“Ek is baie bly daar is ’n goeie mens wat omsien na diere, want daar is baie diere wat baie swaar kry. My eie hond sou nie geleef het as dit nie vir mevrou Suretha was nie. Ek is baie dankbaar vir haar en vir die Here dat my hond dit oorleef het.”
Dít is die woorde van ’n dankbare inwoner van Uitsig, Caledon, oor Suretha van Dyk, wat amper al haar vrye tyd bestee om diere in nood te help.
Suretha, ’n plaaslike polisiebeampte, is in Retreat gebore, was in Parowvallei op laerskool en het haar hoërskooljare in Oudtshoorn voltooi. In 1991 is sy na die Oudtshoorn-polisiekollege vir opleiding.
“My pa, Gillie Gildenhuys, was ’n groot diereliefhebber. Hy het baie stoorkatjies huis toe gebring. Daar was altyd diere by die huis en dit is by hom wat ek my passie vir diere gekry het,” sê Suretha.
Op ’n vraag oor hoekom sy so baie tyd en geld op ander mense se diere uitgee, antwoord Suretha:” Ek het besef daar is ’n groot behoefte daar buite. Daar is nie kos nie; daar is nie geld nie. Die mense is lief vir hul diere, maar het bloot eenvoudig dikwels nie die geld om hulle te versorg nie.
“Ná die Covid-pandemie het dit vererger, want baie mense het hul werk verloor of hul werk is afgeskaal. Baie mense kan eenvoudig nie die pryse van dierekos in winkels bekostig nie.”
Om hoofsaaklik kos, ontwurmingspille, kombersies en vlooi- en bosluismiddels te finansier, het Suretha elke Saterdag, as die weer dit toelaat, ’n stalletjie in die middedorp waar sy tweedehandse klere, huishoudelike toebehore en hondekos verkoop.
“Ek verkoop dit spotgoedkoop. Dit is nie net om die diere te help nie, maar ook sodat die mense iets ordentlik teen ’n bekostigbare prys kan koop. Ek kry skenkings van mense, hoofsaaklik van vriende, maar maak ook gereeld my huis skoon en bring oortollige goed na die stalletjie,” sê Suretha.
Hermanus Times het onlangs die geleentheid gehad om Suretha op een van haar gereelde kosgee-rondes te vergesel. Dit was aanskoulik om te sien hoe die opgewonde honde stertswaaiend aangehardloop gekom het sodra hulle haar motor of haar stem hoor. Hulle het sommer geweet dat hulle nou lekker bederf gaan word. En sy ken elke hond op sy of haar naam.
Suretha gee nie net kos nie, sy bemoedig mense om na diere om te sien. Sy moedig mense aan om hul diere te laat steriliseer. “Dis ’n moeilike pad om te loop om mense te oorreed om hul diere te laat steriliseer, veral as dit ’n reun is. Hulle verstaan eenvoudig nie die konsep dat ’n ongekastreerde reun nie net vryelik op straat kan rondloop nie,” sê Suretha.
Op ’n vraag of ’n verwagting nie geskep word dat sy maar altyd net sal help met kos nie, antwoord Suretha: “Nee, die diere wat ek gereeld gaan kos gee, behoort aan mense met wie ek regtig ’n pad begin stap het. Die diere was so maer dat ek hulle papierhonde noem. Ek is die een wat bederfies bring, maar dit is jóú hond en jý moet verantwoordelikheid neem. As jy nie werk het nie, en jy het nie kos vir hulle nie, verwag ek dat jy met my moet kommunikeer.
“Dit is stresvol en by tye hartverskeurend, want ek raak tog emosioneel betrokke by die diere. Ek raak mismoedig as mense nie hul samewerking wil gee nie, maar daar is altyd ligpunte ook, soos die geval van Layla, wat deur ’n pofadder gepik is en teen alle verwagtinge in, en na lang behandeling, oorleef het en nou floreer,” sê Suretha.
Vir stokperdjies het Suretha nou geen tyd nie, maar eendag in die nabye toekoms wil sy weer die kwaste optel en begin skilder.
Vrouemaand is bewusmakingsmaand vir geweld teenoor vroue. Suretha se boodskap aan vroue is: “Kyk na jouself; dis baie belangrik. Kyk in watter verhoudings julle ingaan. Moenie ’n slaansak vir mans wees nie.
“As jy in ’n gewelddadige verhouding is, staan op en kry die hulp wat beskikbaar is. Moenie wag totdat dit dalk te laat is nie.”




