Ds. Jannie Hougaard wys aan Isobel van Niekerk, Truna Odendaal, Liza Visagie en Sue Clegg hoe om die beste uit hulle selfoonfotografie te haal.Foto: Mitzi Buys


Die Caledon-VLV, wat ook lede van naburige dorpe insluit, se maandelikse vergaderings bied altyd iets interessants vir sy lede aan.

Ds. Jannie Hougaard, ’n bekende oudleraar van Caledon, was onlangs die gasspreker en het ’n baie insiggewende praatjie oor fotografie gelewer. Ds. Jannie is ’n kranige fotograaf en is bekend vir sy pragtige natuurtonele van die Overberg-omgewing. Aangesien die meeste mense deesdae hul selfone gebruik om foto’s te neem, het hy deur middel van ’n oorhoofse projektor verskeie interessante wenke ten opsigte van komposisie, beligting en redigering met die lede gedeel.

Hy het ook na ’n aantal gedrukte foto’s van lede gekyk en hulle raad gegee oor waarna om te kyk wanneer ’n foto vir ’n kompetisie ingeskryf word.

Verskeie handwerkprodukte en gebak van die lede is deur Tossie van Rensburg en Retha Skein beoordeel. Die verrigtinge is voorafgegaan met heerlike sop en brood asook lekker soetgoed.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article