Willem Botha gaan sy mooimaak-geheime met die skoner geslag deel tydens Nampo Kaap wat volgende week in Bredasdorp gaan plaasvind.


Nampo Kaap bied die landbougemeenskap van die Wes-Kaap ’n venster op die nuutste tegnologie wat die verskillende bedrywe gebruik om die voedselketting te bedien en die perfekte geleentheid om landboukwessies te bespreek en by mekaar te leer.

Sowat 500 uitstallers wat uiteenlopende landbouprodukte, -toerusting -dienste en -oplossings by Nampo Kaap ten toon stel, beloof met die tema “Groen-energie Revolusie” ’n aantal opsies om die energiekrisisse te verlig.

Die gespreksforum Nasie in Gesprek word vanjaar weer by Nampo Kaap aangebied onder leiding van Theo Vorster en en Anlie Hattingh. Die gesprek op Woensdag, 13 September om 10:00 fokus op “Handelsverhoudings onder die loep: Die ekonomiese impak van die Russiese oorlog op Suid-Afrika”. Die tema vir 14:00 is “Ontsluiting van potensiaal: Groei van die kanola-bedryf in die Kaap”.

Donderdag, 14 September om 10:00 word “Die Kaap aan die stuur: Vordering met kragopweking” bespreek en om 14:00 gesels die paneel oor “Van vleis tot voordeel: Uitdagings van die waardeketting in die skaapbedryf in die Kaapprovinsie”.

Die skoner geslag word ook nie agtergelaat nie en die vroueprogram met Mynhardt Joubert, Willem Botha en Jak de Priester beloof om ’n fees van verleidelike kos, mooimaak-geheime en bekoorlike musiek te wees. Die Nampo Kaap instap-skoonheidsalon was ’n groot treffer in 2022 en sal weer ’n geleentheid bied waar vroue kan ontspan en die behandeling van hul keuse geniet terwyl die manne hul aan die nuutste landboutegnologie verlustig.

Toegangskaartjies is aanlyn beskikbaar by www.ticketpros.co.za. Pryse is R80 vir volwassenes en R40 vir skoolgaande kinders. Kaartjies wat by die hekke gekoop word is R90 per persoon Voorskoolse kinders kom gratis in. Die ekspo duur van 13 tot 16 September. Besoekers kan die Kaap Agulhas-toerismekantoor kontak vir verblyf by 028 424 2584 / 082 896 2225 of www.overberg-info.co.za

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article