Ongelukkige inwoners van Theewaterskloof betoog voor die Caledon-stadsaal oor die aanstelling van die nuwe burgemeester.Foto: Mitzi Buys


Die gerugte oor en die aanstelling van die nuwe burgemeester van die Theewaterskloof-munisipaliteit (TWK) het baie reaksie ontlok.

Dít was nadat die burgemeester van die TWK, Kallie Papier, op 27 Augustus ná ’n lang stryd met kanker oorlede is.

Die raadslid Mary Liebenberg van die Patriotic Alliance en oorspronklik van die Paarl is Vrydag op ’n spesiale raadsvergadering in die Caledon-stadsaal as ’n raadslid van die TWK ingesweer en is later ná die verkiesing, waar sy met 14 stemme teenoor 13 teen die ander kandidaat, die raadslid Carol Benjamin, gewen het, as burgemeester bekend gestel.

Liebenberg het vroeër as proporsionele PA-raadslid van die Kaapse Wynland-distrik gedien, was ook die sekretaris-generaal van die PA en is tans die nasionale president van die vroueliga van die PA.

Inwoners was ontsteld oor die aanstelling aangesien hulle iemand plaaslik wil hê en het Vrydagoggend na die stadsaal opgeruk om hul misnoeë uit te spreek. Van hulle het gesê hulle soek nie ’n “inkommer” nie en het genoem daar is “ander goeie kandidate”.

“Ons soek ’n burgemeester wat van ons omgewing is en weet wat in ons omgewing aangaan,” het ’n betoger gesê.

’n Ander inwoner het ook gesê dit moet iemand van TWK wees wat die streek se swaarkry ken.

Die DA het ook op die aanstelling gereageer en volgens Isaac Sileku, die DA se kiesafdelingshoof van die Theewaterskloof, steur die munisipaliteit hom nie aan die inwoners se pleidooie nie.

“Die TWK-munisipaliteit het Vrydag ’n spesiale raadsvergadering beroep ingevolge die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Strukture ná die afsterwe van die burgemeester Kallie Papier. Ingevolge die koalisie se samewerkings­ooreenkoms het die Patriotic Alliance die burgemeestersetel. GOOD het die onderburgemeestersetel en die ANC dien as speaker. Gayton McKenzie, president van die PA, het ’n kandidaat wat in die Paarl woon, as hul kandidaat benoem. Hierdie kandidaat woon nie binne die Theewaterskloof se munisipale grense nie en het nog nooit hier gewoon nie.” VNa bl.2.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article