Die TWK-burgemeester Mary Liebenberg en die munisipale bestuurder Wilfred Solomons-Johannes saam met raadslid Denzil Jacobs in die aangepaste paneelwa wat aan Jacobs oorhandig is.

Mitzi Buys

In Hermanus Times van 7 September 2022 (“Ken jou dorp: Denzil Jacobs”) is daar berig oor raadslid Denzil Jacobs, Theewaterskloof-munisipaliteit (TWK) se eerste gestremde raadslid, oor hoe hy met ywer sy werk vanuit ’n rolstoel verrig.

’n Jaar later, Dinsdag 19 September, het die TWK-burgemeester Mary Liebenberg en die TWK-munisipale bestuurder Wilfred Solomons-Johannes ’n spesiale aangepaste voertuig vir Jacobs se gebruik bekendgestel. Tydens die bekendstelling het Solomons-Johannes gesê daar moet na almal se uitdagings gekyk word. “Raadslid Jacobs doen wonderlike werk in sy gemeenskap en ons het gevoel ons moet hom bystaan. Ons het ’n versoek aan minister Anton Bredell gerig vir die aankoop van ’n aangepaste voertuig. Die versoek is toegestaan, mits dit binne die begroting bly,” sê Solomons-Johannes.

Daar was ’n vertraging met die aflewering van die voertuig, want ’n gespesialiseerde bedryfsmeganisme, die eerste van sy soort in die land, moes ingevoer word. Jacobs sal nie self die motor bestuur nie, maar kan in sy rolstoel met ’n oprit tot agter in die paneelwa ry.

Burgemeester Liebenberg het genoem dit is vir haar ’n eer en ’n voorreg om die motor aan een van die hardwerkendste mense wat sy teëgekom het te oorhandig. Jacobs sê aan Hermanus Times: “Dit was ’n moeilike reis tot dusver, want ek moes op my eie in my rolstoel beweeg en was afhanklik van ander om my by vergaderings ensovoorts te kry en om my in en uit motors te tel. Ek glo ek sal nou meer dinge bereik, nie net in my wyk in Grabouw nie, maar in die hele TWK waar ek nou na verskillende dorpe kan ry om te sien wat die behoeftes van gestremdes is. Ek is baie bly dat die raad ’n verskil kan maak en dat mense kan sien dat mense met gestremdhede nou ingesluit word. Maar bo alles wil ek dankie sê aan die Hemelse Vader. Ons moet nooit vergeet wat die Here kan doen nie,” sê Jacobs.

Tydens dieselfde geleentheid het TWK ook verskeie nuwe voertuie gekry, wat twee bakkies, ’n watertenkwa, kersieplukkervragmotor en ’n kompakteerder ingesluit het. Die kompakteerder is deur die departement van landbou, bosbou en visserye aan die TWK geskenk.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article