Johan Heyns van Anysbos is gelukkig tussen sy toggenburger-bokke.Foto’s: Mariëtte Strydom


Om oor een van die beste olfyfolies in die land te skryf, is een ding, maar om die geskiedenis van die plaas en sy werking te beleef, is heeltemal iets anders.

Anysbos in die Botrivier-distrik ís iets om te beleef. ’n Mens kan sien op hierdie plaas word gewerk, en met passie. Hul passie en harde werk is onlangs by die SA Olive Awards beloon toe hulle ’n goue en ’n silwermedalje gewen het. Altesaam 82 inskrywings is ontvang. Die prysuitdeling is op 8 September in die Paarl gehou.

Richard Allen, die voorsitter van die Suid-Afrikaanse olyfbedryf, het die volgende oor die wenners gesê: “Dit was ’n baie uitdagende jaar weens die slegte oes.” Hy het beklemtoon dit was ’n wêreldwye neiging.

“Ander daaglikse uitdagings soos beurtkrag en die weer het ook ’n groot rol gespeel, maar steeds het ons vervaardigers van die beste olyfolies geproduseer.”

Johan Heyns, die eienaar van Anysbos, kan bevestig dit is ’n uitdagende jaar, maar skerts: “Dis maar boerdery . . . en die wind en weer in hierdie omgewing speel ’n groot rol, want te veel wind is glad nie goed vir die olyfbome nie. Hierdie is eintlik beter wynwêreld.”

Heyns het die plaas in 2007 as ’n aftreeplek gekoop, min wetende dat dit hom ná 14 jaar so besig gaan hou dat hy nie tyd sal hê om rustig agteroor te sit en te ontspan nie.

“Toe ons hier aankom, was hier niks, en nou pronk ons met wingerde, olywe en selfs toggenburgers, ’n bok van Switserland, waarvan ons die melk gebruik om die heerlikste kaas te maak,” vertel hy.

Die naam van die plaas het ook nie saam met die registrasie gekom nie en die plaas is deur Heyns self “gedoop”. “Die plaas het net ’n nommer gehad en ek het net geweet die naam moet met ’n A begin. In hierdie omgewing kom die Agathosma cerefolium, of die anys-boegoe, voor en ek het die plaas toe Anysbos genoem. Die spesie is uniek in die omgewing en as jy die blare tussen jou vingers vryf, kan jy duidelik die anys ruik,” vertel Heyns.

Ry jy deur die plaas, kom jy dadelik agter waarom Heyns en sy vrou op dié stukkie grond eerder as in die Vrystaat besluit het – water loop vrylik deur die plaas, met ’n paar damme en groen heuwels wat ’n mens verwelkom. “My kop het Vrystaat toe gestaan, maar my vrou het gesê sy wil nie daar aftree nie. My broer, wat Gabriëlskloof besit en nou my buurman is, het my oor die stuk grond ingelig, en ons het dit van die grond af opgebou.”

Afgesien van die plant van die verskillende olyfbome, die pars daarvan en die kelder vir die wenwyne, is dit die toggenburgers wat jou hart steel. Die bokke met hul kenmerkende kleur en smaaklike melk is duidelik Heyns se liefde. “Die bokke hou ’n mens besig, maar dis baie bevredigend. Ons maak kaas van die melk – dit het ’n baie unieke smaak. Ons kaasmaker het ’n passie vir wat sy doen. Sy het begin om in die huis as huishulp te werk, maar haar belangstelling in resepte het daartoe gelei dat ons haar Frankryk toe gestuur het om haar as ’n kaasmaker op te lei. Vandag is sy ’n gesoute kaasmaker en sy weet wat sy doen.”

Die wyne, nes die olyfolie van Anysbos is van die beste gehalte en hul wynmaker, Marelise Niemann, is as jong wynmaker van die jaar aangewys. “Ek hou daarvan om in Botrivier te werk – dit voel soos ’n klein plaasgemeenskap waar niks aansitterig is nie. Ek hou ook baie van die oop ruimtes en die mense hier het soveel persoonlikheid,” het dié inwoner van Onrus onlangs op Wines of South Africa se blog gesê.

Die proelokaal is net soos die res van die geboue uniek en eie aan die plaas. Die balke asook die tafel se hout kom van die plaas af, en met sy plaasgevoel gaan die wynproe iets besonders wees, maar Heyns waarsku: “Ons proelokaal is net op afspraak oop, en ons olyfolie en kaas is by verskeie padstalle en winkels in die Overberg en selfs in Somerset-Wes te koop. Belangstellendes kan selfs aanlyn olyfolie koop.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article