Matriekmeisie van Overberg vertel van haar stryd om by matriekafskeid uit te kom

Die poging om Lea Docherty, ’n leerder aan die Hoërskool Overberg, by haar matriekafskeid te kry, was darem suksesvol.


Hul matriekafskeid is seker die geleentheid waarna alle leerders hul hele skoolloopbaan die meeste na uitsien, en vir die graad 12-leerders is dit die laaste pret voordat skouer aan die wiel gesit moet word om vir die eindeksamen te leer.

Die poging om Lea Docherty, ’n leerder aan die Hoë

Lea Docherty (18) van die Hoërskool Overberg was een van dié leerders wat vreeslik uitgesien het na haar matriekafskeid Donderdag 28 September. Terwyl almal besig was om vir die spesiale aand voor te berei, het Lea gewonder of sy ooit die geleentheid sou kon bywoon, want die Helderstroom-gebied, waar sy en haar ouers woon, was heeltemal van die buitewêreld afgesny. Nie net was alle paaie onbegaanbaar nie, maar as gevolg van die oorloop van die Theewaterskloofdam was dit ’n watermassa so ver as wat die oog kon sien.

Danksy mense wat dadelik bereid was om Lea en haar metgesel, Tinus Viviers, per rubberboot te gaan haal, kon sy haar groot aand bywoon. Hermanus Times het met Lea gesels en sy sê: “Voordat alles oorstroom het, was ek baie opgewonde. Ek het my hele skoolloopbaan na hierdie dag uitgesien, maar toe dit vir vier dae aanmekaar hard reën en ons omgewing heeltemal oorstroom was, het ek begin stres, want daar was geen manier dat die water voor die matriekafskeid sou sak nie.

“My pa het probeer uitvind of iemand ons met ’n boot kon help. Die skoolhoof het Dreyer van Niekerk, ’n plaaslike boer, gekontak om te vra of hy my, my metgesel en my ouers die Donderdagoggend per boot sou kon oorvat. Ek was baie opgewonde dat ek nou wel my matriekafskeid sou kon bywoon. Daardie Donderdagoggend was dit erg mistig en die stroom van die rivier was baie sterk.”

Toe Dreyer met ’n rubberboot by die toneel opdaag, was die polisie reeds daar met ’n boot, en almal het besluit om die kinders eerder met die polisie se boot land toe te bring.

Lea vertel verder: “Die polisie het vir ons reddingsbaadjies gegee om aan te trek. Terwyl ons op die bootjie was, het ek ’n bietjie begin stres omdat die stroom so sterk was, maar die polisieman het ons kalm gehou en gesê ons moet net styf vashou indien enigiets sou gebeur. Toe ons kom waar die stroom baie sterk was, het die polisieman goeie beheer oor die boot behou en ons veilig aan die ander kant afgelaai.

“Ek was so dankbaar dat ons veilig aan die ander kant aangekom het en dat ek die aand saam met my vriendinne kon geniet. Dit was regtig ’n baie spesiale aand, maar ek sal daardie dag nooit vergeet nie,” sê Lea.

Rozette Docherty, Lea se ma, het hulle op die boot vergesel. Sy sê: “Ons het regtig baie gestres, want ’n mens wil tog maar sien dat jou dogter haar matriekafskeid kan bywoon en geniet, maar ons is so dankbaar vir mnr. Van Niekerk wat bereid was om ons te help, asook vir die polisie wat ons toe oorgeneem het.”

Lea se pragtige uitrusting was in ’n swart sak verseël, en omdat hulle by vriende in Caledon oorgeslaap het, moes ’n drasak met klere ook saamgeneem word.

Dreyer, van die plaas Lemoenskop, wat self groot skade in die onlangse oorstromings gely het, het nie vir ’n oomblik geskroom om sy hulp aan te bied toe hy daarvoor gevra is nie. “Ons het die vorige dag ’n gesprek met die skoolhoof, Johan Jacobs, gehad en in plaas daarvan om die matriekafskeid uit te stel omdat nie alle kinders dit kon bywoon nie, is gevra of ek kon help om die leerders te gaan haal,” sê Dreyer.

“Toe ons die boot Donderdagoggend te water wou laat, was die polisie reeds daar met ’n boot. Omdat hulle in elk geval na die Helderstroom-terrein moes gaan om voorrade af te lewer, het hulle aangebied om die leerders terug te bring,” noem van Niekerk.

Johan Jacobs, skoolhoof van Ovies, sê: “Ons as skool is baie dankbaar vir die bereidwilligheid van Dreyer van Niekerk om te help, asook aan almal wat ’n bydrae gelewer het om ’n wonderlike aand onder moeilike omstandighede vir almal moontlik te maak.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article