Brendill Davids is vir korrupsie aangekeer.


’n Voormalige polisiebeampte sal twee jaar agter tralies deurbring nadat hy op aanklagte van korrupsie en poging tot afpersing skuldig bevind is.

Brendill Davids is vir korrupsie aangekeer.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag in die Wes-Kaap, het bevestig dat Brendill Davids (44), wat voorheen as ’n konstabel in Caledon gestasioneer was, Woensdag 11 Oktober in die handelshof in Bellville gevonnis is.

“Davids sal twee jaar effektiewe tronkstraf uitdien nadat hy skuldig bevind is aan poging tot afpersing en korrupsie,” aldus Ntabazalila.

Dié klagte spruit uit ’n voorval in Oktober 2016 toe Davids en ’n familielid wat toe net 15 jaar oud was, by ’n tandarts in Grabouw se spreekkamer deur die Valke in hegtenis geneem was.

Zinzi Hani, woordvoerder van die Valke in die Wes-Kaap, berig Davids het na bewering voorgestel dat die tandarts hoër bedrae by die mediese fonds moet eis.

“Davids het volgens berigte die dokter afgepers en geld geëis,” het Hani verduidelik. “Die dokter het die Valke se ondersoekeenheid daarvan ingelig en ’n geheime operasie is begin.

“Die slagoffer het R50 000 in ’n sak oorhandig aan die beskuldigde wat met sy familielid daar was. Die twee is in hegtenis geneem en die volle bedrag geld is teruggevind.”

Davids is na sy inhegtenisneming onder polisiebewaking in die hospitaal opgeneem nadat hy simptome van ’n hartaanval getoon het. Hy was die volgende oggend ontslaan en in polisie-aanhouding geplaas. Hy is kort daarna op borgtog van R15 000 vrygelaat en die minderjarige was in haar ouers se sorg vrygelaat.

Hani het bevestig dat die aanklagte teen die minderjarige op 24 Februarie 2017 teruggetrek is.

Majoor-generaal Mathipa Makgato, provinsiale hoof van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (Valke), het die vonnis verwelkom en die hoop uitgespreek dat dit as waarskuwing sal dien aan ander wetstoepassers wat by misdaad betrokke is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article