’n Hele paar huise wat sowat 100 jaar oud is, staan in Bergstraat in Myddleton.
Tannie Anna Williams, 75, woon in een van dié huise – die laaste huis bo in die straat.
Teen die een geel binnemuur van haar sitkamer hang geraamde ikone, familefoto’s pryk teen die ander muur en ’n groot venster in die derde muur gee ’n uitsig op Bergstraat.
Maar die vierde muur is weg, skoonveld . . .
Daar is nou net ’n yslike gat waar dié muur moes wees, met net ’n paar rye kleibakstene nog as sigbare bewys dat hier eens die buitemuur van die sitkamer was.
Machelle Williams, wat by haar ma woon, vertel aan Hermanus Times: “Ons was die naweek [7 en 8 Oktober] al bekommerd oor die muur. Ons het gesien ’n kraak in die muur raak al hoe wyer. Ek het vir my seun Grecon gesê ons moet versigtig wees. Toe ek Maandag (9 Oktober) hoor dat van die goedjies begin afval, het ek vir my ma en seun gesê ons moet om veiligheidsredes eerder uit die huis padgee en in die Wendyhuis agter in die erf gaan bly. Die muur het daardie namiddag ingeval.”

Tannie Anna, wat al sedert haar troue in dié huis woon, sê: “Ek is so dankbaar vir almal wat hulp aangebied het en dankbaar dat ons heelhuids hier uitgekom het. Dit kon so anders gewees het,” sê tannie Anna.
“Ek sê altyd vir my kinders ons kan niks sonder die Here doen nie. Ek het gisteraand (Maandagnag) wakkergeskrik en net gesê: ‘Ag dankie Here.’ Ons moet in mekaar se lewens wees en lief wees vir mekaar en mekaar help, want ons kry mekaar nodig. Dit kon so anders gewees het,” herhaal tannie Anna ’n paar keer saggies.
Shirley May, wat twee huise van tannie Anna af woon, se een buitemuur het ook al ingeval.
“Ek woon al 61 jaar hier. Dit was my ouma se huis. Ek het Sondagmiddag gerus en ’n geluid op die dak gehoor. Ook my seun het my gevra wat gebeur het. Ek het by die agterdeur uitgegaan en na die dak gekyk, maar niks gesien nie,” sê Shirley.
“Toe my oudste suster hier aankom, het sy my seun gevra of ons dan niks gehoor het nie. Sy sê toe dat die muur ingeval het, maar sy het ook eers gedink dit is dalk die groot ou akkerboom in die straat wat so kraak,” sê Shirley.
May sê ’n loseerder, wat gewoonlik in daardie kamer slaap, was gelukkig nie daardie naweek tuis nie.
Munisipale amptenare, die burgemeester, Mary Liebenberg, en die onderburgemeester, John Michels, asook raadslede het die persele verlede Dinsdagoggend besoek en sal die families op hoogte hou van die pad vorentoe.



