Vermeende moordenaar van De Necker van Schalkwyk van buit glo beroof

Die vermeende moordenaar van De Necker van Schalkwyk is glo van sy buit beroof.


’n Verdagte wat aangekla is in verband met die moord op ’n man wie se liggaam by Rotary Way in Hermanus gevind is, is na bewering van die oorledene se gesteelde besittings beroof.

Sandile Lumatha (40) het Vrydag 20 Oktober op aanklag van moord in die Hermanus-landdroshof verskyn. Michael Kwaki (36) en Simnikiwe Siyabonga Ntonga (37) het op dieselfde dag weens die besit van gesteelde goedere verskyn.

Die vermeende moordenaar van De Necker van Schalkw

Die drie mans is in hegtenis geneem kort nadat De Necker van Schalkwyk se liggaam Woensdag 11 Oktober vroeg die oggend by Rotary Way gevind is.

Die polisie het bevestig hy het ’n skietwond in die kop gehad, maar geen vuurwapen is op die toneel gevind nie.

Van Schalkwyk is die vorige dag as vermis aangemeld nadat hy versuim het om terug te keer nadat hy gesê het hy gaan na ’n vulstasie toe.

Die polisie het ná ’n uitgebreide soektog op sy voertuig by Rotary Way afgekom.

Sy liggaam is die volgende oggend nie ver daarvan­daan nie gevind.

Lumatha, Kwaki en Ntonga het Vrydag 13 Oktober die eerste keer in die hof verskyn. Die saak is toe tot 20 Oktober uitgestel.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag in die Wes-Kaap, het bevestig die drie verdagtes het op verskillende aanklagte wat met die moord verband hou, in die hof verskyn.

“Die staat voer aan dat Lumatha na bewering die oorledene vermoor het en dat hy later deur die ander twee beskuldigdes van artikels wat aan die oorledene behoort het, beroof is,” het Ntabazalila verduidelik.

Die drie verdagtes se borgtogaansoek is tot 1 November uitgestel.

Van Schalkwyk, wat ’n paar maande gelede van Makhado (Louis Trichardt) in Limpopo na Hermanus verhuis het, was vroeër vanjaar in die nuus toe die Zoutpansberger, ’n gemeenskapskoerant in Makhado, berig het dat hy na bewering die meesterbrein was agter ’n beleggingskema wat kliënte ’n maandelikse terugbetaling van 10% op hul belegging belowe het. (Besoek https://www.zoutpansberger.co.za/articles/news/58488/2023-06-30/financial-genius-or-ponzi-boss om die berig te lees.)

Dié koerant het berig dat Van Schalkwyk se dood skokgolwe deur die Louis Trichardt-gemeenskap gestuur het – veral onder mense wat glo groot bedrae geld in ’n beleggingskema wat hy bedryf het, belê het.

’n Gedenkdiens vir Van Schalkwyk is Vrydag 20 Oktober in Makhado gehou.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article