Dit is nie net vir kinders van Kaap Agulhas nie, maar vir almal oor die hele Overberg, en volgens ouers, onderwysers en leerders sit hulle met die hande in die hare oor wanpraktyke in die Kaap Agulhas-vaardigheidskool.
Hermanus Times het briewe van bekommerde ouers gekry oor onreëlmatighede by die skool in Napier, en volgens hulle val hul versoeke om ondersoek in te stel, op dowe ore.

“Vele klagtes is na die skoolhoof en die departement van onderwys gestuur, maar geen terugvoering of oplossings is tot op hede gekry nie,” het die brief gelui.
Volgens die brief is een van die bekommernisse dat ouers en die gemeenskap nie toegelaat word om in die leerders se toekoms te belê nie. “Ons as ouers word nie toegelaat om sportgeleenthede by te woon nie. Verskeie onderwysers het ook klagtes ingedien, beheerliggaam-lede word deur die hoof afgedank sonder goedkeuring van die beheerliggaam en ons kry geen terugvoering oor die klagtes en doen en late van die skool nie. Dit is waarom ons, ons nou tot die koerant wend,” het een van die ouers gesê.
Bronagh Hammond, ’n woordvoerder van die WKOD, het by navraag aan die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) gesê dis onwaar dat die WKOD nie op die klagtes gereageer en ook geen terugvoering aan ouers en onderwysers gegee het nie.
“Die WKOD het al vorige klagtes wat, deur ’n onderwyser aangemeld is, ondersoek en het bevind geen genoegsame bewyse bestaan om hierdie klagtes te staaf nie. Hierdie bevindinge is ook aan die skool oorgedra,” het Hammond gesê.
“Die WKOD het ook ondersoek ingestel rakende beweringe wat teen die skoolbeheerliggaam ingedien is en het maatreëls daargestel om beter finansiële bestuur van die skool te verseker,” het Hammond afgesluit.




