Een van die mees algemene vrae waarmee die Overstrand-munisipaliteit (OM) daagliks gekonfronteer word, is: Hoeveel vullis mag uitgesit word?

Volgens die munisipale bestuurder van die OM, Dean O’Neill, mag inwoners net 1×240F-wieletjiesdrom of vier sakke van huishoudelike vullis, waarvan een tuinvullis mag wees, uitsit. “As daar meer as een sak tuinvullis uitgesit word, sal geen vullis verwyder word nie aangesien alle vullis dan as tuinvullis gesien gaan word en dan sal dit die verantwoordelikheid van die betrokke inwoner wees om self sy vullis na die stortingsterrein of tuinvullis-afsetgebied te neem,” het O’Neill gesê.
Verder wil die munisipaliteit dit ook duidelik stel dat vir elke deurskynende sak (sakke vir herwinbare produkte) wat uitgesit word, sal daar ’n nuwe sak gegee word. “Daar is geen beperking op die sakke wat vir plastiek, glas, metaal en papier uitgesit word nie,” het O’Neill gese.
Volgens hom moet alle asdromme voor 07:00 tydens die dag wat die vullistrok verwydering in jou buurt doen, uitgesit word. “Onthou net alle asdromme in gebiede waar bobbejane gereeld voorkom, moet ‘bestand’ teen bobbejane wees,” het hy afgesluit.




