AfriForum se Overstrand-tak het Donderdag 26 Oktober 30 inheemse bome, waaronder geelhout, assegaai, witpeer en kusvaalbos, by die Laerskool Kleinmond geplant.
Dié bome is deur Themba Trees, die Elgin-vallei se voorste kenners van inheemse bome, vir die projek geskenk, terwyl Kleinmond Tuindienste hul diens gratis aangebied het. Hulle het gate vir die jong boompies se nuwe staanplek gegrawe en ook hand bygesit met die plantwerk.
Volgens Jacques Benade, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland, word met hierdie boomplantprojek nie net geplant vir ’n groener toekoms vir Kleinmond nie, maar ook om die verhouding tussen die Overstrand-tak, die Laerskool Kleinmond en die gemeenskap op ’n opbouende wyse uit te brei.
Intussen sit AfriForum se Alfa-buurtwag sy goeie werk ten opsigte van gemeenskapsveiligheid in die Overstrand voort. Die Overstrand-tak is al hoe meer besig om ’n verskil te maak in die gemeenskap en wil in die toekoms ook ’n pad met plaaslike skole stap.
“Ons bedank die AfriForum-lede en elkeen wat gehelp het om hierdie boomplantprojek aan te pak. Dit laat ’n mens met ’n goeie gevoel wanneer mense, wat mekaar nie eens ken nie, bymekaarkom en vir ’n beter toekoms saamwerk,” sê Benade.
Die Overstrand-tak bedank elkeen wat ’n bydrae tot die projek gelewer het. Hulle nooi lede van die gemeenskap om by AfriForum se Overstrand-tak en Alfa-buurtwag betrokke te raak.





