Die omstredenheid rakende die Theewaterskloof-munisipaliteit (TWK) se munisipale bestuurder duur voort.
’n Skikkingsooreenkoms is verlede Dinsdag bereik kort voordat die Wes-Kaapse hooggeregshof sou begin om ’n aansoek van Anton Bredell, Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, aan te hoor om die raad van die TWK se aanstelling van Wilfred Solomons-Johannes as munisipale bestuurder te hersien.
Bredell, die munisipaliteit en Solomons-Johannes het die skikkingsooreenkoms bereik, luidens ’n verklaring van die Theewaterskloof-munisipaliteit.
Die munisipaliteit en Solomons-Johannes sou die aansoek teenstaan.
Die skikkingsooreenkoms maak voorsiening vir die tersydestelling van die aanstelling van Solomons-Johannes en dat die raad van voor af met die aanstellingsproses begin.
Solomons-Johannes sal in die pos aanbly tot die afhandeling van die proses, luidens die verklaring. Elke party het ingestem om sy eie hofkoste te betaal en die skikkingsooreenkoms is ’n hofbevel gemaak, luidens die verklaring.
Solomons-Johannes het die hofbevel verwelkom en gesê hy sal waarskynlik weer aan die proses deelneem om as munisipale bestuurder aangestel te word. Volgens hom voldoen hy aan al die vereistes vir die aanstelling.
Bredell het in ’n verklaring gesê ’n hofbevel is op 5 Maart by ooreenkoms bekom rakende die aanstelling van Solomons-Johannes.
Ná sy aanstelling deur die raad as munisipale bestuurder op 27 Julie 2023 het Bredell regsgedinge in die hooggeregshof ingestel om die aanstelling onwettig te verklaar.
Die aangeleentheid was vir verlede week Dinsdag op die hofrol geplaas.
Die hof het beslis die aanstelling van Solomons-Johannes is onwettig en dit tersyde gestel. Sy laaste werksdag sal op 22 Junie wees.
Verder is die munisipaliteit beveel om teen 22 Maart met ’n nuwe werwingsproses te begin.





