Dit is nou al jare dat die inwoners van Paradise Park in Hermanus soos ’n voël op ’n tak sit en steeds lyk die toekoms vir die 143 gesinne wat nog op die omstrede grond woon onseker.
In 2015 is 300 huisgesinne van Paradise Park kennis gegee om hul huise te ontruim nadat hulle glo nie aan munisipale regulasies voldoen het nie en twee jaar later (2017) is die grond aan ’n ontwikkelaar verkoop.
Nadat die inwoners geweier het om hul huise te ontruim, is daar in 2022 ’n interdik aan die inwoners toegestaan om so gou as moontlik ander heenkome te vind. Die Overstrand-munisipaliteit (OM) het ook vir hulle noodbehuising in Stanford aangebied, maar steeds het van die inwoners nie bes gegee nie en vandag is daar steeds 143 gesinne wat in Paradise Park bly.
Dit is ook in dié tyd dat die voormalige speaker van die Wes-Kaap en deesdae president van die A.C.C.-party, Masizole Mnqasela, hom oor die inwoners begin kwel het.
“My eerste amptelike besoek was in 2019 en die inwoners lê my na aan die hart. Tydens my besoek destyds het ek agtergekom wat vir die een groep inwoners geld, moet mos vir ander ook geld. Die OM het baie gedoen om die Schulphoek-inwoners te help om hul huise te behou nadat hulle die grond onwettig beset het, maar vir die inwoners van Paradise Park het hulle noodbehuising 30 km van hul huise (wat hulle wettig bekom het) aangebied,” het hy in ’n onderhoud aan Hermanus Times gesê.
Vreedsame besoek aan OM
Nadat die saak nou al vir ’n geruime tyd gesloer het, het 30 inwoners van Paradise Park saam met Mnqasela die OM op 29 Januarie besoek. Tydens die vreedsame betoging het Mnqasela ook melding gemaak dat hyself, die destydse premier van die Wes-Kaap, Helen Zille, en Tertuis Simmers, die Wes-Kaapse minister van infrastruktuur, aan die inwoners belowe het dat hulle hierdie grond teen ’n billike prys gaan onteien vir behuising, nie net vir die huidige inwoners nie, maar ook in die algemeen.
“Die munisipaliteit is tans besig met litigasie in die Wes-Kaapse hooggeregshof met die huidige eienaar van die eiendom vir uitstaande skuld wat miljoene rande beloop en daar is ook ’n hangende verhoor in die Konstitusionele hof deur die inwoners oor hul uitsetting,” het dr. Annelie Rabie, OM-burgemeester, in ’n skrywe gesê.
Sy het ook volgens Mnqasela haar verbind om saam met die A.C.C. te werk om die inwoners teen die teistering van die huidige eienaars te beskerm. Mnqasela het ook ’n vergadering op 18 Maart met die munisipaliteit belê waar hy ’n mandaat van die inwoners van Paradise Park aan hulle sou voorlê.
“Ek wil graag versoek dat die burgemeester die verbintenis onderteken om saam met my te werk om oplossings te vind en die onteiening met redelike vergoeding van die stuk eiendom so spoedig as moontlik te begin,” het Mnqasela gesê. . Paradise Park was die eiendom van Raymond Schonegevel en was ’n vakansieoord. Later het hy, volgens een van die inwoners, toestemming vir mense gegee om permanent daar te woon en permanente strukture daar op te rig. “Tydens die saak destyds in die Wes-Kaapse hooggeregshof, het elke huiseienaar wat daar getuig het gemeld dat daar ’n mondelinge ooreenkoms tussen die inwoners en Schonegevel was dat hulle daar mag bly ‘as long as you live’, met dien verstande dat jou kinders dit mag erf,” het een van die inwoners, wat steeds in Paradise Park woon, gesê. Volgens hofdokumente het die munisipaliteit nooit toestemming vir Schonegevel gegee vir hersonering van die grond nie en al voorwaarde wat Schonegevel glo aan die inwoners gegee het, was om hul maandelikse heffing te betaal.
Die inwoner wat destyds deel van die hofgeding was, sê daar is bewyse van die munisipaliteit dat die OM vir die bouplanne toestemming gegee het.
In 2010 het die OM agtergekom dat daar net vir twee rioolkonneksies betaal word in plaas van die 312 wat die inwoners in daardie stadium gebruik het. Die munisipaliteit het sy tariewe opgestoot en in 2010 is die Paradise Park Home Owners Association (PPHOA) gestig om die stygende tariewe te betwis. Schonegevel het sy maandelikse heffing opgestoot en nadat hy en die PPHOA nie daaroor kon skik nie het hy in 2017 die grond aan ’n ontwikkelaar verkoop.
“Dit is vir ons hartseer dat die OM, wat ’n plig teenoor sy inwoners het, ons nie gehelp het nie, maar eerder miljoene rande bestee het aan regskoste om ons van die grond af te kry, eerder as om ons te help. Hulle het in ons gefaal, maar ons glo dat geregtigheid sal geskied,” het die inwoner gesê.
Schonegevel is in 2021 oorlede.



