Onrus is al weer in die nuus, en dié keer is dit nie omdat hierdie pragdorpie op die televisieprogram Fiësta is oor sy Kalfiefees nie en ook nie oor Buffel, die olifantrob wat hom op die strand tuisgemaak het nie, maar oor die feit dat hy een van drie streeksfinaliste van die Wes-Kaap is vir die Kwêla– Dorp van die jaar-kompetisie.
Greyton het die gesogte titel in 2021 gewen en vanjaar wil die Overberg weer met die louere wegstap.
Charmaine Rezandt, ’n raadslid van Onrus, moedig mense aan om vir Onrus te stem.
“Ons het baie vir toeriste om te sien – ons pragtige strande, die soutpan, Davies Pool, die Walkerbay Pro, wêreldklas-restaurante en wandelroetes,” het sy gesê.
Volgens Rezandt sal dit ’n groot ekonomiese inspuiting wees – nie net vir Onrus as die dorp wen nie, maar ook vir die hele Overstrand.
Die Onrus-gemeenskap het deur die jare al gewys hulle kan saamstaan.
Verlede jaar met die oorstromings het almal saamgestaan om die strand op te ruim. Hester Finberg, ’n inwoner van Onrus en die feesdirekteur van die Hermanus-Kalfiefees, het ’n werkskeppingsprogram op die been gebring waar werkloses opgelei is om nie net die strand op te ruim nie, maar ook om sake te doen. Van die mense wat sy opgelei het, het vandag hul eie suksesvolle ondernemings.
Volgens haar is sy baie trots op haar tuisdorpie. “Dit is vir ons ’n eer om as ’n streeksfinalis benoem te wees. Ek wil almal aanmoedig om vir ons mooi dorp te stem,” het sy gesê. “Ons dorp pronk nie net met baie kunstenaars nie, maar ook met bekende mense en gesiene sakelui. Dit is ons beurt om te wen. Moenie dat jou stem verlore gaan nie.”. Om te stem, stuur ONRUS via SMS na 33157. ’n SMS kos R1,50. Jy kan tot 30 SMS’e van een selnommer af stuur. Inskrywings sluit op 21 April.
Die ander streeksfinaliste vir die Wes-Kaap is George en De Rust.





