Die gasspreker by die VLV-Hermanus se maandbyeenkoms was Anneke Harms, wat oor die Bela-wet en boeliegedrag gepraat het.


Dit is al vir jare ’n tradisie en steeds is dit vir menige vrou ’n hoogtepunt op hul maandelikse kalender.

“Ons vrouelandbouvereniging (VLV) se gereelde maandbyeenkomste, wat elke tweede Woensdag plaasvind, was weer eens ’n heerlike bymekaarkom-geleentheid. Pragtige produkte is weer ingeskryf en die gebak het almal se monde laat water,” het Mariëtte Steyn, woordvoerder vir die VLV-Hermanus, oor die byeenkoms gesê.

Die gasspreker vir die middag was Anneke Harms, ’n onderwyseres by die Hoërskool Hermanus. Die drie aspekte wat sy aangespreek het, was die Bela-wet, wat tans in die nuus is en die veranderinge wat dit teweeg sal bring.

Sy het verder ook oor boeliegedrag in die skool en op sosiale media gepraat. “Die werklikheid hiervan het ’n groot invloed op die gesin van die boelie sowel as dié van die kind wat geboelie word. Daarom is dit belangrik dat dit positief en kalm uitgepraat moet word.”

Sy het ook die uitwerking wat boeliegedrag op skole, leerders en onderwysers het en die belangrikheid van rekordhouding van voorvalle beklemtoon.

Verder het sy die invloed wat sosiale media op kinders het, verduidelik – soos onder meer misleidende inligting, kuberpeste, taalontwikkeling wat skade ly, gebrek aan privaatheid, dopamine wat die geheue kan laat verswak, ensovoorts.

“Ons almal het voorwaar baie geleer en is dankbaar vir die opvoeding-groep wat die byeenkoms gereël het.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article