??Die tragiese saak van Pamina Vermaak wys Saterdagaand 11 Mei om 20:00 op kykNET-kanaal 145.


Weskussers sal binnekort met trots voor die televisieskerms kan inskuif om hul pragtige Weskus-dorpies in volle glorie te beleef wanneer die Afrikaanse fliek Die tragiese saak van Pamina Vermaak eersdaags op die kassie uitgesaai word.

Die fliek is grootliks in Laaiplek, Velddrif, verfilm, met tonele wat ook in St. Helenabaai aan die Weskus geskiet is. Verfilming het in 2022 begin waarna die fliek sy première by die 2023 Silwerskermfees gehad het.

Waarom is op die Weskus besluit?

Die regisseur, Kabous Meiring, vertel hoewel sy geen vreemdeling aan die Weskus is nie en talle grootword-vakansies hier deurgebring het [haar pa, Hannes Meiring, het immers Saldanha Staal ontwerp] is “die ware konneksie dié van die skrywer van die gelyknamige roman Annie Klopper”.

“Die roman speel af op ’n klein dorpie – in die regte lewe op Doringbaai. Ons wou egter iets meer industrieel op skerm wys.”

Daarvoor het Velddrif die perfekte ligging gebied.

Byna driekwart van die fliek speel af op Eigelaarsdrif, die fiktiewe naam vir ’n dorp met visbedrywe.

Die storielyn is een waarby baie sal kan aanklank vind.

Soos in die titel vermeld, vertel dit die storie van Pamina Vermaak wat haar werk verloor nadat sy ’n groot uitbarsting by die werk het.

“Die uitbarsting word natuurlik opgeneem deur ’n kollega en beland in die kuberruim. Dis die begin van Pamina se reis om eerlik te wees met haarself. Sy gaan terug na waar sy vandaan kom en daar ontmoet sy die internasionale ster Wolf de Jager. Aanvanklik vryf hulle twee mekaar baie sleg op, maar helaas, soos in alle goeie romcoms, hou hulle later so effens van mekaar,” sê Meiring.

Oor hul tydjie aan die Weskus tydens verfilming sê sy almal het “hulle gate uit geniet, want die gasvryheid van die mense in Velddrif is byna ongekend”.

In ware Weskusstyl is hulle deur albei hotelle op die dorp met groot visbraaie onthaal. Die kos op die stel is ook deur plaaslike spyseniers gemaak.

“Verder is die lig en die lug so verskriklik mooi en die onpretensieuse argitektuur het bygedra tot die gevoel van die fliek, om nie eens te praat van die Bergrivier nie.”

* Die tragiese saak van Pamina Vermaak wys Saterdagaand 11 Mei om 20:00 op kykNET-kanaal 145. Die rolverdeling sluit onder meer in Carla Smith (Tydelik terminaal, Ekstra medium, Troukoors) wat die rol van Pamina Vermaak vertolk en Christiaan Schoombie (Troukoors, Desert Rose, Binnelanders) as die rockster Wolf de Jager. Ander bekendes is Anna-Mart van der Merwe, Lee-Ann van Rooi, Albert Pretorius en Duane Williams met kameeverskynings deur Hélène Truter, Rolanda Marais, André Roothman en Armand Aucamp.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article