Lede van die Legacy Martial Arts-akademie in Hermanus het dit weer gedoen . . .
Die akademie gaan duidelik van krag tot krag en 15 skopboksers is weer in die Wes-Kaapse span opgeneem wat van 28 tot 30 April in Potchefstroom aan die Suid-Afrikaanse kampioenskap deelgeneem het.
Maar die drome van die skopboksers en selfs shihan Ruehan van Romburgh was byna aan skerwe toe geld hierdie atlete se drome amper in die wiele gery het.
“Ons was baie moedeloos, maar gelukkig het ek ’n span ouers wat nie bang is om planne te beraam om almal se drome te verwesenlik nie. Ons het in vier weke R9 000 met BackaBuddy en organisasies wat ons gehelp het, ingesamel. Ek kan maar net almal bedank wat gehelp het sodat almal van ons aan die kampioenskap kon deelneem,” het Ruehan gesê.
Volgens Ruehan het drie toernooie in daardie tydgleuf plaasgevind.
“Dit was nie net die Suid-Afrikaanse skopboks-kampioenskap nie, maar ook die eerste Nasionale Universiteitsbeker en die Suid-Afrikaanse ope skopbokskampioenskap wat op deelnemers in die ouderdomsgroepe 4-6, 7-9 en 10-12 gerig is,” vertel hy.
Die Hermanus-atlete het aan al drie toernooie deelgeneem en weer gewys waartoe hulle in staat is toe hulle agt goue medaljes, 11 silwermedaljes en ses bronsmedaljes gewen het. “Wat die prestasie nog meer merkwaardig maak, is dat ons net 14 skopboksers was, van wie nege verlede jaar ook aan die kampioenskap deelgeneem het, en vir die ander vyf was dit hul eerste kampioenskap,” vertel Ruehan trots.
Die medaljewenners is soos volg: Shihan Ruehan (goud, drie silwer); Namika Pieterse (twee goue medaljes); Zius Brand (twee goue medaljes) Anushca Thorne (een silwermedalje en twee bronsmedaljes); Qvaro van der Westhuizen (een silwer- en een bronsmedalje); Lyle Asary (silwer- en bronsmedalje), Dylan Isaacs (silwermedalje), Leyla Brand (twee goue medaljes), Sam Bloch (bronsmedalje), Chelene Kreusch (twee silwermedaljes en een bronsmedalje) en Aidan Brummer (een goue en een silwermedalje).
Die span gaan duidelik nie op hul louere rus ná die Suid-Afrikaanse kampioenskap nie en volgens Ruehan is Anushca, Aidan, Leyla, Dylan, Zius, Qvaro en Namika in die Suid-Afrikaanse span opgeneem wat van 23 Augustus tot 1 September in Boedapest in Hongarye aan die Children Cadet and Junior Kickboxing Championship gaan deelneem.
Die span saam met Ruehan gaan ook in Desember aan die African Continental Kickboxing Championship in Benoni deelneem.
“Chelene Kreusch is ook in die Suid-Afrikaanse Universiteitspan opgeneem, wat Suid-Afrika volgende jaar in Italië gaan verteenwoordig. Ek is so trots op al my lede. Wen of verloor – hulle almal is kampioene in my oë. Die harde werk wat hulle tydens oefeninge insit, gaan nie ongesiens verby nie. Die nuwelinge wat ’n indruk by die Suid-Afrikaanse kampioenskap gemaak het, het die teiken hoog gestel. Nou moet ons almal harder werk om daardie prestasie te verbeter,” vertel Ruehan trots.
Ruehan bedank die Hermanus-gemeenskap en die ondernemings wat hulle ondersteun sodat die atlete se drome verwesenlik kan word. “Hairday, Wonderland, Gozone, Walkerbay Nursery en Sandbaai Wishy Washy ondersteun ons altyd en ons kan nie genoeg dankie sê nie,” sluit hy af.





