Die Sanlam Boland-vrouerugbyspan is op die wenpad met vier oorwinnings agtereenvolgens.
Dié span, onder leiding van Thomas Chowles van Hermanus as hoofafrigter, het die afgelope naweek met hul oorwinning oor die vroue van Grens die tweede plek op die Vroue-Premierliga ranglys verseker. Dié wedstryd is op die Hoërskool Hermanus se rugbyveld gespeel en is voorafgegaan deur kragmetings tussen verskillende vrouerugbyspanne van oor die Overberg heen.
Aan die einde van die dag het die Boland-dames met ’n eindtelling van 20-12 as die oorwinnaars uit die stryd getree en ’n bonuspunt gekry aangesien hulle vier drieë teenoor die teenstanders se twee drieë gedruk het.
Die Sanlam Boland-dames kom hierdie naweek (Saterdag 11 Mei) op Loftus Versfeld in Pretoria te staan teen die Bulls Daisies wat bo-aan die Vroue-Premierliga se ranglys is.





