By die opening van Ovies se nuwe biblioteek is PJ Smal, Celena le Roux, Adriaan Punt, Puleng Lebitsa, Karel Liebenberg, Theon Adonis, Dané Kershoff, Joshua Ludick en Anna-Mart Fourie.


Die Hoërskool Overberg het op 2 Mei sy nuwe biblioteeklokaal amptelik ingewy.

Anna-Mart Fourie, ’n wiskundeonderwyser by Ovies, noem dat ’n groep entoesiastiese graad?10- en graad 11-leerders in 2022 gesien het dat daar ’n leemte vir ’n biblioteek is en Fiction Addiction gestig het.

“Ons het klein begin, maar met die hulp van verskeie donateurs is ons stadig maar seker besig om te groei met goeie gehalte leesboeke en stories vir enige nuuskierige en leesgierige kind of onderwyser wat die waarde van ’n goeie boek verstaan,” sê Fourie.

’n Komitee van 15 gewillige leerders het hard gewerk om die ruimte wat aan die begin van die jaar aan hulle toegeken is, in ’n biblioteek om te tower. Twee komiteelede is weekliks tydens die eerste pouse aan diens in die biblioteek.

Leerders kan ’n boek vir twee weke leen, waarna hulle dit kan terugbring of hernu. Gedurende eksamentye sal die biblioteek slegs op Vrydae oop wees.

Indien iemand leesboeke wil skenk aan die Ovies-biblioteek kan Anna-Mart Fourie per WhatsApp by 062 198 1608 gekontak word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article