Die winter is hier en die afgelope week se koue en reën is die stille getuienis hiervan.

Die departement van water en sanitasie (DWS) is verheug oor die goeie reën wat die afgelope week in die Wes-Kaap se opvanggebiede geval het, hoewel dit ongerief vir sommige gemeenskappe veroorsaak het. Dit is veral die Kaap Agulhas-munisipaliteit wat deur die afgelope week se reën geraak is. Inwoners van Struisbaai-Noord is ook letterlik in die donker gelaat nadat hulle vir ’n paar dae sonder elektrisiteit was. “Eskom kon eers Woensdag die eerste keer die inwoners help en gelukkig is hul elektrisiteitstoevoer weer herstel,” het Gurshwin Prins, ’n woordvoerder van die Kaap Agulhas-munisipaliteit, gesê.

Volgens Mashudu Murovhi, die waarnemende DWS-hoof van die Wes-Kaap, is die afgelope week se reën ’n goeie aanduiding van wat in die winter verwag kan word, maar hy waarsku klimaatsvera­n­dering kan veranderende reënval­patrone bring net soos wat klimaats­verandering ook droogtes kan veroorsaak.

“Dit is waarom ons water spaarsamig moet gebruik. Tydens die winterreënval is dit ’n uitstekende tyd om reënwater op te vang,” het hy gesê.

Die De Bos-dam buite Hermanus is tans 98,83% vol terwyl die Buffelsrivier op 107,65% staan, die Kraaiboschdam 101% vol is, die Pearly Beach- (60%) en die Koeke­moerdam by Pearly Beach ook 101% vol is. Die Theewaters­kloof­dam staan op 61,5% en die Eiken­hofdam buite Grabouw op 60%.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article