Die langste foefieslaaid in die wêreld, wat buite Caledon geleë is, is amper gereed om vir die publiek te open. Foto: Rick Marais


Ná etlike jare se droom en beplanning maak die langste foefieslaaid in die wêreld, wat buite Caledon geleë is, binnekort vir die publiek oop.

K3 SA Forest Adventures Caledon, soos dit bekend staan, gaan binnekort die wêreld se langste foefieslaaid van 3,2 km wees.

Clinton Lerm, die eienaar van SA Forest Adventures, het aan Hermanus Times bevestig die beplanning is om die K3-foefieslaaid binne die volgende maand te open mits die weer saamspeel. “Ons het nie ’n datum nie, maar ons gee onsself nog so 30 dae,” sê Lerm.

Die K3-foefieslaaid is op private grond so vyf kilometer van Caledon af langs die N2 geleë, naby Myddleton. Die droom en visie van die langste foefieslaaid het al in 2016 by Lerm ontstaan.

“Ek het twee jaar lank die hele Suid-Afrika deurkruis op soek na die regte perseel. Die perseel moes logistiek hê asook prakties en toeganklik wees. Die Covid-19-pandemie in 2020 het ’n rol in die opening van die Knysna-foefieslaaids gespeel, wat toe later geopen het, en dit het ook beteken dat ons nie so vinnig met K3 kon begin soos wat ons wou nie,” sê hy.

Overberg

Op die vraag waarom Caledon, vertel Lerm: “SA Forest Adventures het besluit om die foefieslaaid net buite Caledon te bou, want ons het reeds ’n tak naby Caledon Hotel & Spa, dus lê Caledon ons nog altyd na aan die hart. Dit is ook baie naby aan die Kaap, en dit is dus maklik toeganklik vir toeriste en plaaslike inwoners wat só iets op hul emmerskop-lysie wil afmerk.”

Lerm vertel dat hy eendag verby die berg gery het van waar die foefieslaaid begin en hy het torings bo-op die berg gesien wat beteken dat daar reeds ’n pad gebou is om tot bo op die berg te kom. Hy het later saam met ’n boer teen die berg opgery en daar en dan besef dat dit is waar hy die langste foefieslaaid in die wêreld wil bou.

“Maar ek moes eers al my berekeninge doen en ek het gekyk van watter rigting af die wind waai – daar is ’n klomp faktore en dis nie net van kabel span nie,” voeg Lerm by.

Die kabels en toerusting waarmee die kabel gespan moes word, is Maandag 27 Mei afgelaai en die volgende dag (Dinsdag 28 Mei) is ’n gidskabel met ’n helikopter gespan. Die hoofkabels word binnekort gespan en dan sal toetse (en toetslopies) gedoen word om seker te maak alles gaan klopdisselboom voordat die foefieslaaid vir die publiek open.

“Die foefieslaaid-bedryf het die afgelope paar jaar baie verander. Ek was een van die authors wat ná 10 jaar die witskrif aanvaar het vir die installering en veiligheid van foefieslaaids in Suid-Afrika. Al ons foefieslaaids voldoen aan die wetgewing – dit is om te verseker dat veiligheid altyd ’n topprioriteit is. Al kan ons self inspeksies op ons eie foefieslaaids doen, kry ons eksterne (derdeparty-) mense in om te verseker dat ons foefieslaaids aan al die veiligheidsvereistes voldoen,” sê Lerm.

Lerm het met die K3-foefieslaaid daarop gefokus om al die produkte wat op en rondom die foefieslaaid gebruik word, by plaaslike vervaardigers te koop en 90% van die foefieslaaid se materiaal is in Suid-Afrika vervaardig.

“Dit het ons baie meer gekos as om die produkte uit China te koop, maar ons wou plaaslike mense so ver as moontlik ondersteun. Dis juis waarom al ons personeellede by K3 ook almal van die Caledon-omgewing af kom,” vertel Lerm trots.

Fase een van die K3-foefieslaaid word binnekort geopen, maar om te verseker dat hulle die langste foefieslaaid in die wêreld bly, beplan Lerm om ’n 5 km-foefieslaaid oor ’n paar jaar te span en te bedryf.

“Ons begin met fase twee oor so ’n jaar of twee. Ons wil die langste foefieslaaid in die wêreld bly,” sê Lerm.

In die nabye toekoms sal SA Forest Adventures se ander produkte soos vierwielmotorfietse ook van daar af begin bemark en ’n koffiewinkel maak ook binnekort sy deure op die perseel oop. . Vir meer inligting oor die opening van die foefieslaaid hou SA Forest Adventures se sosialemediablaaie dop.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article