AfriForum se Overstrand-tak sien nie net om na die veiligheid van Hermanus-inwoners nie, maar is ook altyd besig om iets positief in die gemeenskap te doen.
Inwoners van die kusgebied Onrus het ’n langverwagte transformasie by die speelpark in Douglasstraat sien ontvou toe AfriForum se Overstrand-tak die eens vaal klimrame met ’n vars laag verf ingekleur het. Lede van die gemeenskap en die takbestuur het nuwe lewe in dié park geblaas deur elke klimraam, swaai en glybaan met helder kleure oor te verf.
Verskeie rolspelers, soos BUCO Hermanus, wat die helder verf vir die klimrame geskenk het, het gehelp om van dié projek ’n sukses te maak. Hierdie bydraes het gehelp dat talle kinders weer opgewonde is om in die park te speel, en het ook ’n gees van samewerking onder die gemeenskap gekweek.
“BUCO Hermanus se ondersteuning is ’n sprekende voorbeeld van die invloed van individue wat met organisasies kragte saamsnoer vir ’n gemeenskaplike doel.
“Hierdie projek verteenwoordig die gemeenskap se gedeelde verbintenis tot die verbetering van die omgewing en hul waardering vir openbare ruimtes en die instandhouding daarvan,” sê Jacques Benade, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland.
Die opgeknapte speelpark het ’n herlewing in die aantal besoekers beleef, aangesien talle inwoners en hul kinders die park weer daagliks besoek.
AfriForum se Overstrand-tak moedig die gemeenskap voortdurend aan om by sy bedrywighede betrokke te raak sodat hulle op elke openbare ruimte trots kan wees. . Besoek www.wordlid.co.za om deel van die Overstrand-tak en Alfa-buurtwag te word.





