’n Verdagte het verlede Donderdag (20 Junie) op aanklagte van ontvoering, afpersing, gewapende roof en geldwassery in die Caledon-landdroshof verskyn. Dié klagte hou verband met ’n voorval Saterdag 15 Junie waar twee 19-jarige studente op die Franschhoekpas ontvoer is.

Lt.-kol. Malcolm Pojie, ’n provinsiale woordvoerder, het bevestig die moontlikheid dat dié voorval met die ontvoering van ’n vroulike fietsryer, wat 13 Junie ook deur verdagtes op die Franschhoekpas oorval en ontvoer is, verbind kan word, word ondersoek.

“Die moontlikheid dat die twee voorvalle verbind is, is deel van die voortdurende ondersoek. Die moontlikheid dat meer inhegtenisnemings gedoen kan word namate die ondersoek ontvou, is nie uitgesluit nie,” het hy bygevoeg.

Die fietsryer en die studente is volgens berigte oorval deur mans wat in ’n wit minibus gereis het. Die slagoffers is in albei voorvalle in Grabouw vrygelaat nadat lospryse betaal is.

Paarl Post
,

Hermanus Times
se susterskoerant, berig die vroulike fietsryer het in ’n boodskap bevestig sy is Donderdag 13 Junie in die Franschhoekpas van haar fiets af gestamp en deur drie gewapende mans ontvoer. Die aanvallers het haar fiets na bewering teen ’n krans af gegooi en haar in die taxi geboender.

“Hulle het my Goddank by die BP-garage in Grabouw vrygelaat – 20:15 die aand; ongedeerd,” het die fietsryer in haar boodskap geskryf.

Pojie het bevestig die vrou se man het die voorval by die Paarl-polisiekantoor aangemeld nadat sy hom daaroor ingelig het. Lede van die Grabouw-polisie het die vrou gaan haal. ’n Klagte van ontvoering in verband met dié voorval word ondersoek.

Die twee studente is twee dae later omstreeks 20:30 ontvoer – volgens hulle ook deur mans wat in ’n wit minibus gereis het. Die slagoffers is na bewering beveel om hul ouers te kontak en vir geld in ruil vir hul vrylating te vra.

Volgens Pojie het die slagoffers ná hul beproewing na die Franschhoek-polisie gery waar hulle die saak aangemeld het.

Paarl Post het berig een van die studente se ouers het in ’n boodskap bevestig haar dogter en haar vriend is ongedeerd.

Die 32-jarige verdagte is Dinsdag 18 Junie ná goeie speurwerk deur die provinsiale multidissiplinêre taakspan, wat ontvoerings in samewerking met eksterne vennote ondersoek, aangekeer.

Die verdagte het Donderdag 20 Junie die eerste keer op aanklagte van ontvoering, afpersing, gewapende roof en geldwassery in die Caledon-landdroshof verskyn.

“Hy het op 21 Junie vir borgtog-inligting in die hof verskyn en sal na verwagting in aanhouding bly totdat ’n formele borgtogaansoek gedoen word,” het Pojie bygevoeg.

Kol. Siyabulela Vukubi, ’n woordvoerder vir die Valke, het bevestig dié prioriteit-misdaad-ondersoekeenheid ondersoek die vroulike fietsryer se ontvoering .

“Die ondersoek duur voort,” het Vukubi gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article