Verskeie mense is beseer toe ’n Toyota Yaris gebots het teen ’n munisipale voertuig wat blykbaar ’n U-draai gemaak het.


’n Saak van roekelose en/of nalatige bestuur word ondersoek ná ’n botsing verlede week in Bettysbaai waartydens ’n aantal mense, onder wie munisipale werkers, beseer is.

In beeldmateriaal wat op sosiale media gedeel is, blyk dit ’n bakkie van die Overstrand-munisipaliteit het Maandag 17 Junie omstreeks 18:00 ’n U-draai probeer maak toe dit deur ’n blou motor, wat in die rigting van Kleinmond ry, getref is. ’n Mens kan sien hoe insittendes van die bakkie uit die voertuig geslinger word terwyl die blou motor verskeie kere tol voordat dit ’n ent verder tot stilstand kom.

Die bakkie het ook ’n voertuig van ’n plaaslike veiligheidsmaatskappy getref waar dit geparkeer was.

Volgens bronne was die insittendes van die blou Toyota Yaris stropers wat steeds in hul duikpakke geklee was. Een bron berig dat die polisie slegs op een perlemoen wat in die pad gelê het, beslag gelê het.

Altesaam 12 insittendes van die munisipale voertuig, wat as bobbejaanmonitors werk, sowel as die bestuurder en ses insittendes van die Yaris is na die hospitaal vervoer.

AO Martin Mostert, Kleinmond-polisie se waarnemende bevelvoerder, het bevestig ses insittendes van die munisipale voertuig het ligte beserings opgedoen terwyl vier kode-geel-beserings opgedoen het en twee gering beseer is.

“Die insittende van die veiligheidsmaatskappy se voertuig, wat voor die munisipale voertuig parkeer was, het rugbeserings opgedoen en is ook hospitaal toe vervoer. Twee insittende van die Yaris is ernstig beseer en vier ander het ligte beserings opgedoen. ’n Saak van roekelose en nalatige bestuur word ondersoek,” het hy bevestig.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article