Die uitsetting van die Paradisepark-inwoners het Maandagoggend (1 Julie) voortgegaan.


Die kwessie rakende Paradisepark strek verder as net jare lange inwoners wat hul huis moet ontruim nadat die konstitusionele hof die uitsettingsbevel bekragtig het.

Die Hermanus Animal Welfare Society, of Haws, soos hulle alombekend staan, is oorval met diere van Paradisepark.

“Ons het agt honde en 22 katte gekry en dit is nie eens dié wat hul diere laat uitsit het nie,” het Rinaldi Meyer, die hoofbestuurder van Haws, gesê.

“Ek het lanklaas in my lewe soveel mense gesien huil. Een van die bejaarde inwoners het haar hondjie laat uitsit, en dit was hartverskeurend om te sien hoe sy gehuil het.”

Volgens Rinaldi glo sy dit is steeds nie die einde nie aangesien nog inwoners hierdie week moes ontruim.

“Ons het nie genoeg plek vir al die diere gehad nie; ons moes vyf van die katte na Kleinmond neem en van die honde is na ’n hondesalon se hokke geneem. Ons maak maar planne waar ons kan; dit is baie traumaties vir die diere en die inwoners.”

Een van die gereelde ondersteuners van Haws het ’n pleidooi op Facebook aan alle gebruikers gerig om hulle aan te moedig om kat- en hondekos asook komberse aan Haws te skenk.

Meyer sê sy is oorweldig deur die skenkings en moedig mense aan om te skenk en ook om diere aan te neem.

“Ons wys nie diere weg nie. As ons diere inkry, maak ons ’n plan om hulle te kan huisves.”

Sy moedig ook lesers aan om kos en komberse te skenk. Vir enige navrae skakel 028 312 1281. . Inwoners moes teen verlede Dinsdag (25 Junie) hul eiendomme ontruim, maar volgens een van die inwoners het die Menseregtekommissie glo ’n stokkie daarvoor gesteek. “Dit was nie lank nie of die hele uitsetting het weer van voor af begin,” het die inwoner gesê. “Vanoggend (1 Julie) het die Rooi Miere weer gekom om ons uit ons huise te sit.”

Volgens Tracey Henn, ook ’n inwoner, moes die Menseregtekommissie op 1 Julie ’n vergadering met die ontwikkelaars gehad het, maar die ontwikkelaars het glo die afspraak gekanselleer.

Die hof het ook ’n nuwe uitsettingsbevel op 26 Junie aan die inwoners (wat nog daar is) oorhandig.

Van die 143 huise is nog 115 oor.

“Van ons inwoners het na Gordonsbaai en ander dorpe verhuis, maar party het bloot nie ander heenkome nie,” het Henn gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article