Die Hermanus-inwoner Junade Pasensie draf deesdae nie net vir die Hoërskool Garsfontein uit nie, maar het ook sy buiging vir die Blou Bulle-Cravenweekspan gemaak. Foto: Actionpix Frans Lombard (084 323 4989)


Met die Springbokke wat ná die Wêreldbeker gewys het waarom hulle die nommereenspan ter wêreld is, is dit elke jong rugbyspeler se droom om eendag vir die Bokke uit te draf.

Maar, soos baie ander dinge in die lewe, is dit nie vir almal beskore nie.

Junade Pasensie van Hermanus het egter gewys as jy hard vir iets baklei en ’n liefdevolle huis en gemeenskap opgee, kan jy baie vermag. Dié oudleerder van die Hoërskool Hermanus en Hawston Sekondêr het sy ma, vriende, veilige omgewing en tuiste opgegee om sy talent uit te leef en – soos hy dit stel –“ ’n beter lewe vir my ma te gee”.

Junade met sy nederige persoonlikheid is glad nie grootpraterig oor sy prestasie nie – dié graad 11-leerder aan die Hoërskool Garsfontein is vanjaar vir die Blou Bulle se Cravenweek-span as heelagter gekies, en dit nogal deel van die beginspan.

Volgens hom was dit vir hom ’n groot eer toe hy gekies is en maak dit al die opofferings die moeite werd. “My posisie is eintlik losskakel, maar die geleentheid wat God my gegee het om vir die Blou Bulle as heelagter uit te draf, het ek met albei hande aangegryp,” vertel hy.

Vroeg raakgesien

Junade het as jong rugbykannetjie met elke oefening en wedstryd alles ingesit. Toe hy sy hoërskoolloopbaan by Hawston Sekondêr begin het, het talentsoekers hom dadelik raakgesien en hy is na die Hoërskool Hermanus. Van daar is hy na die Hoërskool Garsfontein, of die “Bere”, soos hulle bekendstaan – een van die beste rugbyskole in die noorde.

“Dit was vir my baie moeilik om my huis, familie en vriende agter te laat, maar die ondervinding wat ek in Pretoria opdoen, sal ek vir niks verruil nie,” vertel hy. Hy bly saam met ander rugbyspelers in ’n “rugbyhuis”, soos hy dit stel, en die mense is baie vriendelik met hom. “Daar is baie toprugbyspelers wat dieselfde paadjie as ek geloop het. Embrose Papier, die skrumskakel van die Bulle, het ook soos ek van die Wes-Kaap af hierheen verhuis, asook ander rugbyspelers soos Michail Damon, Carlton Banies en Demitri Erasmus, wat almal van Grabouw is, maar hul hoërskoolloopbaan aan die Hoërskool Garsfontein voltooi het.”

Die skoolvakansie was vir hom baie lekker, maar alle goeie dinge kom tot ’n einde en Junade het Dinsdag (9 Julie) saam met vier ander spelers na Johannesburg gevlieg, waar hulle by hul spanmaats gaan aansluit om gereed te maak vir Saterdag se wedstryd teen die Hoërskool Nelspruit in Mbombela.

“Ek sien nogal uit na Saterdag. Ek was nog nooit daar nie,” vertel Junade, wat altyd die positiewe in die lewe raaksien.

Soos enige ander speler, droom hy daarvan om die Groen-en-Goud oor sy kop te trek – veral die nommer-10-trui. “Ek weet nie wat God se plan met my is nie, maar dit wat Hy oor my pad sal bring, daarin sal ek my beste gee.”

Junade kyk veral op na spelers soos Lionel April, Sacha Feinberg-Mngomezulu en Suleiman Hartzenberg.

Hy wil graag die volgende mense bedank: “Mnr. David Coert en sy gesin, wat my aan die hand gevat en my gelei het; die Abrahams-familie wat altyd daar is vir my; die gemeenskap van Mount Pleasant vir hul motivering; my ma wat nog altyd in my geglo het en steeds in my glo; en die Atlantics-rugbyklub wat my liefde vir rugby aangewakker het. Ek wil ook alle eer aan die Here gee, want sonder Hom is ek niks. Hy lei, help en gee my krag in alles wat ek aanpak.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article