Mense word dikwels gewaarsku teen die gevare wat sosiale media inhou aangesien gewetenloses dit maklik kan gebruik om weerloses uit te buit.
Maar in die geval van die Bereaville-WhatsApp-groep, wat onlangs gestig is sodat inwoners van hierdie klein dorp sake kan bespreek wat die gemeenskap raak, is dit ’n seën.
Henno Sauls, ’n boorling van die dorp, wat deel van Genadendal vorm, maar tog kilometers buite dié sendingdorp geleë is, het die geselsgroep aan die begin van Junie gestig sodat inwoners probleme rakende die dorp asook oplossings en planne vir die dorp se toekoms en vooruitgang kan bespreek.
“Bereaville is ’n skilderagtige, maar soms vergete Overbergse dorp wat altyd aan die agterspeen rakende ontwikkeling suig. Talle pogings is in die verlede aangewend om kwellende probleme aan te durf, maar dit het meestal platgeval of by leë beloftes gebly,” vertel Sauls.
Besprekings op die groep, sê hy, het almal tot die besef gebring dat iets daadwerkliks gedoen moet word om die dorp van agteruitgang te red.
“Die gemeenskap het nou begin saampraat oor planne om eens en vir altyd die verlede te herskryf. Ja, talle komitees is al in die verlede gestig, maar omdat dit nie geregistreer was nie en net sommige inwoners daaruit voordeel getrek het, het dit weer stilletjies verdwyn.”
Besprekings op die groep het gelei tot ’n vergadering op 3 Junie, waar besluit is om die Bereaville-gemeenskapsforum te stig en te registreer.
Die lede werk tans doelgerig om planne op die tafel te sit om ’n gestruktureerde forum met verkose lede op die been te bring.
Sauls, wat hard poog om werkskepping onder veral die jeug in die gemeenskap te bevorder, werk ook nou saam met verskeie plaaslike organisasies om kos en warm klere aan behoeftiges in die gemeenskap te voorsien.
“Die ywerige besprekings op die WhatsApp-groep is ’n bewys van eendrag maak mag.
“God help dié wat hulself help, en ons is seker dat ons die wa deur die drif sal trek om ons gemeenskap op te hef,” het hy verklaar.. Enigeen wat by die groep betrokke wil raak of skenkings vir die voedingskema wil gee, kan Henno Sauls by 073 022 2166 bel.




