In vandag se tye, waarin die gedrukte media deur moeilike tye gaan en die een koerant ná die ander sy deure sluit, is dit verblydend om te weet dat die Hermanus Timessteeds van krag tot krag gaan.
Die sukses van die koerant is nie net te danke aan die lojale lesers en adverteerders nie, maar ook die span wat hard werk sodat hulle hul geliefde gemeenskapskoerant week vir week kan lees.
Een van die spanlede, Gail Cupido-Lukas, is onlangs vir haar harde werk by die Boland Media-prysuitdeling vereer. Sy het met die prys as Bemarker van die Maand (Mei) weggeloop asook die prys vir die Meeste groei in nuwe besigheid.
Die beoordelaars het die volgende oor Gail gesê: “Wanneer ’n bemarker by ’n koerant instap en sy het geen gereelde kliëntebasis nie, moet jy diep grawe – bitter diep. Jy moet elke truuk in die boek probeer; elke unieke verkooppunt in bemarking onthou; elke keer die bemarkingsaanslag aanpas om nuwe kliënte in bestaande kliënte om te skep. Hierdie is regtig baie, baie harde werk wat soms enige goeie verteenwoordiger se moed kan breek. Maar een vrou wat haar nie hierdeur laat afsit nie, opstaan en weer en weer probeer, pluk nou die vrugte van haar harde werk, en dit is sukses. Nie alleen is sy maand tot maand beloon deur die prys as advertensieverteenwoordiger van die maand nie, maar sy het ook die meeste nuwe besigheid vir die jaar in Boland Media se afdeling ‘Meeste groei’ gekry. Welgedaan, Gail Cupido-Lukas!”
Volgens die redakteur van Hermanus Times, Mariëtte Strydom, is Gail se harde werk, professionalisme en liefde vir die koerant aansteeklik. “Niks kry Gail onder nie en week vir week doen sy haar werk met soveel passie dat sy ’n voorbeeld vir menige is. Haar harde werk, lojaliteit teenoor die koerant en liefde vir haar kliënte dra by tot die sukses van die koerant,” het Strydom gesê.
Vir Gail was die prys ’n groot verrassing en sien sy daarna uit om nuwe kliënte te werf en haar bestaande kliënte te help om van krag tot krag te gaan. “Ek sou dit nie sonder my lojale kliënte regkry nie. Dankie vir almal wat in Hermanus Times glo.”. Boland Media bestaan uit Hermanus Times, Paarl Post, Eikestadnuus, DistrictMail & Helderberg Gazette, Weslander, Standard & Breederivier Gazette, Weskusnuus en die Swartland Gazette.





