“Wie gaan brag tot volgende jaar?” is nie net die slagspreuk van die Sanlam- Boland-rugby- Derby Dae nie, maar ook die vraag op almal se lippe – wie gaan die bragging rights hê: Caledon of Hawston?
Die Sanlam-Boland-rugby-Derby Dae se bekendstelling vir die wedstryd tussen die Caledon-rugbyklub en die Hawston-rugbyklub het Woensdag 17 Julie in die Swartberg Sekondêr-skoolsaal plaasgevind.
Dié belangrike wedstryd, die tweede van die derbyreeks, word Saterdag (27 Julie) in Caledon gespeel.
Die Boland-rugbyunie (BRU) sê die Sanlam-Boland-rugby-Derby Dae is “ ’n opwindende nuwe inisiatief wat daarop gemik is om huidige klubrugby-derbywedstryde in die Grootuitdaagbeker-kompetisie in die Boland te versterk. Hierdie projek sal 12 uitgesoekte derbywedstryde ’n hupstoot gee deur die betrokkenheid van Sanlam en Boland-rugby se ander borge.”
Heindrich Wyngaard, die waarnemende voorsitter van die Caledon-rugbyklub, het tydens die bekendstelling in Caledon in sy verwelkoming gesê: “Madiba het gesê sport bring mense bymekaar. En dit is so tussen Hawston en Caledon. Daar is groot wedywering en groot vriendskappe wat oor baie jare gebou is, en daarom is dit met groot opgewondenheid dat ons uitsien na die 27ste se derbydag hier in Caledon.
Lucian Cupido van die BRU was die seremoniemeester en het ook die paneelbespreking gelei. Die paneel het uit drie lede elk van die onderskeie klubs bestaan. Caledon is verteenwoordig deur Wilbur Bosman (president), Cornel van Wyk (verdedigingsafrigter) en JP Bester (kaptein) terwyl Hawston verteenwoordig is deur Lincoln Johnson (adjunkpresident), Juan-Paul Kellerman (hoofafrigter) en Branden Hunter (kaptein).
Sonder om enige strategiese beplanning vir hul wedstryd bekend te maak, en met ’n goedige oor-en-weer-tergery by tye, het die spanne beaam hoewel daar sterk wedywering tussen die twee spanne is, wat eintlik al van skooldae af kom, is daar tog diep spore tussen die twee gemeenskappe getrap en hegte vriendskapsbande is gesmee.
Albei spanne is baie opgewonde oor die derby. Van Wyk sê: “Hierdie is een van die grootste derby’s in die Boland.”
Sukses
Op ’n vraag oor wat bygedra het tot Caledon se sukses dat hy nou boaan die punteleer is, sê van Wyk:” Ons het respek vir mekaar. Ons vat mekaar aan die hand, veral as ons kyk na ons spelpatroon. Dit gaan ook oor die trots wat ons die afgelope 30 jaar het.”
Kellerman sê: “Die derby is massive. Die vlak van rugby in die Overberg is fenomenaal op die oomblik. Dit is ’n ongelooflike geleentheid. Dit is waar bande gesmee word.”
Die spanne het ook die belangrikheid van stroming van wedstryde beklemtoon en genoem dat dit wêreldwyd gesien word.
Norman Cupido, erepresident van die Caledon-rugbyklub en wat reeds 52 jaar by rugby betrokke is, se boodskap aan die spanne is: “Weet waar jy vandaan kom en waarheen jy op pad is. Dissipline en respek gaan saam op die pad vorentoe.”
Die borge van die derbywedstryde, Sanlam, Rainbow Chicken, Vuma, Santam en Tekkietown, borg opwindende pryse – nie net vir die spelers nie, maar ook vir toeskouers by die wedstryde.





