Haar naam doen haar gestand – Layla, “donker skoonheid” . . . en dit is presies wat hierdie “held” is wat die afgelope twee weke die verbeelding van Facebook-gebruikers en inwoners aangegryp het.
Layla, ’n vyfjarige skaaphond-kruising, se storie klink soos iets uit ’n Disney-fliek, maar met ’n gelukkige einde. Layla het gelukkig in Paradisepark saam met haar ounooi gebly, maar omstandighede het daartoe gelei dat Layla ’n ander heenkome moes kry.
“Layla is ongeveer ’n maand gelede na ons gebring aangesien haar baas nie meer na haar kon omsien nie. Dis baie hartseer; die hond was al deur so baie trauma met al die vooraf gebeure wat by Paradisepark aangegaan het,” het Rinaldi Meyer van Hermanus Animal Welfare Society (Haws) gesê.
Dit was op 27 Junie en nie lank daarna nie, op 2 Julie, het ’n barmhartige samaritaan van die Hemel-en-Aarde-landgoed besluit om die pragtige hond in pleegsorg te neem. Volgens Rinaldi wou hulle kyk of sy met die ander honde oor die weg kon kom. Maar Layla het Harry Houdini soos ’n amateur laat lyk, en kort voor lank het die pleegouers laat weet Layla het oor die muur gespring en die hasepad gekies.
“Layla het deur die veiligheidshekke geglip en in die rigting van die Wine Village gehardloop. Niemand kon haar vang nie en mense het haar gereeld in die omgewing gesien,” vertel Rinaldi.
Hulle het hulle tot Facebook gewend en kort voor lank het almal die storie van Layla gevolg. Almal was veral bekommerd oor Layla toe die geweldige reën uitgesak het en die stormwind verwoesting gesaai het.
“Gelukkig was Layla gewoond daaraan om buite te slaap; dit het haar gered,” het Rinaldi gesê.
Haws en die inwoners het uit hul pad gegaan om Layla op te spoor en daar is selfs kosstasies op verskillende plekke opgerig om haar só te probeer vang. So is daar op verskeie plekke voetspore gevind en steeds het almal gehoop dat Layla gevind sou word.
Dinsdag is op Facebook geplaas dat hulle Layla gevind het en nie net is personeel van Haws verlig oor die nuus nie, maar die inwoners het selfs ’n traan gepink oor die goeie nuus.
“Dinsdagoggend 02:00 het die veiligheidswagte asook die terreinbestuurder van die Hemel-en-Aarde-vallei-landgoed Layla gewaar en Razah Takesure van Haws dadelik laat weet. Ons het Layla gevang en haar na Haws teruggeneem,” se Rinaldi.
Met Hermanus Times se besoek aan Haws het Layla rustig – onbewus van die konsternasie wat sy veroorsaak het – saam met Razah vir ’n fotosessie gestap. Razah vertel hy het nog glad nie ’n oog toegemaak nadat hulle Layla teruggekry het nie. “Ek was so opgewonde om haar te sien. Sy was net so bly om my te sien en het my ’n paar keer gelek,” vertel Razah.
Selfs Facebook-gebruikers was dankbaar oor die goeie nuus. Van die lesers vertel hulle sal wat wil gee om Layla aan te neem terwyl ander net dankbaar is oor die uiteinde. “We can all sleep easy tonight knowing Layla is safe,” het een van die gebruikers gesê.
’n Ander gebruiker het gemeld dat sy “happy endings love . . .”




