Die Verenigde Nasies het 18 Julie – Nelson Mandela se verjaardag – in 2009 tot Internasionale Nelson Mandela-dag verklaar. Op dié dag word mense en organisasies aangemoedig om iets positiefs te doen deur gemeenskapsdiens en vrywilligerwerk in hul gemeenskappe te verrig.
In Caledon het die biblioteekpersoneel en hul YeBoneers asook personeel van die Caledon-museum vroegoggend ingespring om saam met die personeel van die Tafelronde Herberg ’n smullekker plaasontbyt van spek, eiers en worsies voor te berei en aan die inwoners van die herberg voor te sit.
Irene Cupido, bestuurder van die herberg, sê: “Ons is so dankbaar vir hierdie wonderlike ontbyt-bederf wat die biblioteek en die museum vir ons voorgesit het, want dit is iets wat ons nie kan bekostig om te doen nie. Ons waardeer dit opreg.”
Ná die ontbyt is die vroue elkeen met ’n voetmassering bederf.
Heidehof-tehuis vir bejaardes het ook sy deel bygedra deur ’n 67-minute-uitreik by die Caledon-kliniek te doen. Hulle het op ’n bibberkoue, nat dag heerlike warm sop en broodjies vir kliniekgangers en personeel voorgesit.
Esther Möller, ’n bestuurder by Heidehof, sê: “Heidehof word ryklik geseën met gemeenskapsdeelname en skenkings, en hierdie is net om op ’n baie klein manier erkenning te gee. Inwoners en ons personeel het saamgespan en met skenkings en harde werk uit eie geledere hierdie uitreik moontlik gemaak. Personeel en inwonerkomiteelede het die koue getrotseer om hierdie liefdesdiens te verrig.”





