Die groot groep graad 9-leerders van Swartberg Sekondêr, wat die jeugvaardigheidsdag-inligtingsessie bygewoon het, saam met van die sprekers, onderwysers en ander wat by die program betrokke was.Foto: Mitzi Buys


Die Verenigde Nasies het 15 Julie in 2014 as Wêreld-jeugvaardigheidsdag verklaar. Dié dag beklemtoon die belangrikheid daarvan om die jeug met vaardighede vir indiensneming en entrepreneurskap toe te rus.

Vanjaar se tema was: “Jeugvaardighede vir vrede en ontwikkeling.”

Die Caledon-biblioteek, in samewerking met die Caledon-museum en Emoji Movement, het Maandag 15 Julie ’n interessante program vir leerders vir Wêreld-jeugvaardigheidsdag aangebied.

Altesaam 58 graad 9-leerders van Swartberg Sekondêr, vergesel van hul onderwysers, het dié belangrike inligtingsessie bygewoon.

Gerhard van Wyk van die Caledon-biblioteek noem aan Hermanus Times: “Die inligtingsessie was daarop gemik om die jeug in te lig oor watter vaardighede hulle kan gebruik om hul toekoms meer volhoubaar te maak om vir hulle werksgeleenthede te verseker of om hul gekose studieloopbaan volhoubaar te maak. Ons het juis graad 9-leerders genooi om die inligtingsessie by te woon omdat dit die jaar is waarin hulle die belangrike besluite oor hulle vakkeuses maak.”

Verskeie genooide sprekers het hul ervarings gedeel oor hoe hulle uitgekom het waar hulle vandag is. Die duidelike boodskap was dat dit nie saak maak waar jy begin het nie, maar deur harde werk en deursettingsvermoë kan jy vir jouself ’n goeie toekoms verseker.

Die sprekers wat deelgeneem het, was Joanna Marzec-Visagie, Chivonne Cyster, Edwin Marthinus, Shannon Smith, Curtley Fortuin, Ernest Esra en Josef Arendse.

Van Wyk sê hulle het baie goeie terugvoer van leerders sowel as onderwysers gekry.

Heerlike sop en broodjies is na afloop van die inligtingsessie vir die leerders voorgesit.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article