Debbie van Vuren, Hester Finberg en Lisa Spaarwater het hard agter die skerms gewerk sodat alles suksesvol kan wees.Foto’s: David Wilson


Augustus is Vrouemaand en dié maand vier ook formidabele vroue – vroue wat ’n verskil in die gemeenskap maak.

Met die 24ste Hermanus Kalfiefees, wat Sondag tot ’n einde gekom het, kan ’n mens net met verwondering na die span agter die reëlings kyk.

Vanjaar is dit die eerste keer dat die feeskomitee net uit vroue bestaan, en dié ses vroue het uit hul pad gegaan om dit een van die suksesvolste Kalfiefeeste nog te maak. Met Hester Finberg (feesdirekteur), Lisa Spaarwater (produksiebestuurder) en Debbie van Vuren (leefstylbestuurder) sowel as Isabeau Botha, Yolandi de Wet en Dezmae Izatt aan die stuur van sake, is hard agter die skerms gewerk om feesgangers tevrede te stel.

“Ons het vanjaar baie aangepak en nie net was die fees oor ’n langer tydperk nie, maar ons het ook verskillende werksessies aangebied en die fees vanjaar na almal geneem. Van die produksies is hierdie jaar in Hawston en by Waldorf aangebied sodat dit meer toeganklik vir almal kan wees,” het Hester gesê.

Volgens Hester was die gewildste produksies dié van veteraan-kunstenaars soos Sandra Prinsloo in Kamphoer, die kabaret Vier Panado’s en ’n Chardonnay van Elzabe Zietsman en Amanda Strydom se ’n Vuur gevang in Glas. “Die Kalfiefees trek steeds meer volwasse gehore en ons streef daarna om meer jongmense ook na die fees te lok. Die nuwe opkomende kunstenaars soos Mel die Storieverteller en Blackbyrd het ook baie goeie terugvoering ontvang. Vanjaar se boekbesprekings met skrywers soos Amoré Bekker, Deon Meyer en Rudie van Rensburg het ook baie voete gelok,” vertel Hester.

Volgens haar is dit die Kalfiefees se missie om die fees na almal te neem en dit is ook een van die redes waarom hulle vanjaar meer kinder- en jeugproduksies gehad het. “Dit is belangrik om die kunste onder ons jeug lewendig te hou en daarom het ons hande gevat met die Story Team van Celeste Slabber-Loriston en ook skole soos Hawston Sekondêr met die produksie Skaakmat en (OOR)Vloed deur leerders van die Hoërskool Hermanus. Verder reik ons ook uit na minderbevoorregte kinders in die Overstrand met ons gemeenskapsprojekte,” het Hester gesê.

Nog ’n hoogtepunt van die Kalfiefees is die toekenning van die Kalfiefees-gedenkteël, wat jaarliks aan iemand toegeken word wat ’n bydrae tot kuns in die Overstrand lewer. Die prys is vanjaar aan Niel le Roux oorhandig, wat ’n stigterslid van die Kalfiefees is.

Niel het in ’n artikel in Kalfiefeesgids verduidelik waarom teëls destyds aan mense oorhandig is en nie ’n beeldjie nie: “Ons wou nie ’n beeldjie of ’n geraamde stuk papier aan iemand gee nie. Daarby wou ons terselfdertyd die uitmuntende pottebakkers van die omgewing betrokke kry. Só is die hulp van Corinne de Haas van Kleinmond bekom. Sy het die eerste teëls gemaak en doen dit steeds elke jaar met ’n nuwe ontwerp. Dit word dan teen die muur van die De Wet-saal in Onrus, die hoofbaken van die fees, vasgemessel. Geen ander fees het so iets nie. Dis besonders en uniek – nes die Kalfiefees,” het hy gesê.

Volgens Hester is hulle reeds aan die beplan vir volgende jaar se fees en kan feesgangers weer uitsien na ’n Kalfiefees vir almal.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article