Die skool is Maandag heropen nadat dit Donderdag gesluit was sodat forensiese kenners die skoolterrein kon fynkam vir enige leidrade ten opsigte van die moord op dié graad 10-leerder wie se liggaam die vorige aand in een van die skool se stoorkamers ontdek is.
Veiligheidswagte het Maandagoggend streng toegangsbeheer by die skool toegepas. Die WKOD het ’n beroep op die gemeenskap en media gedoen om die skoolgemeenskap se privaatheid te respekteer en hulle die nodige tyd en ruimte te gee om te rou.
Die skoolbeheerliggaam het ook oor die naweek ’n verklaring op sosiale media uitgereik waarin hy gemeld het dat geen verdagtes nog in hegtenis geneem is nie en maan teen gerugte wat op sosiale media die ronde doen. Dit lui: “Daar is wydverspreide berigte op sosiale media, wat vals is of nie geverifieer is nie. Sodra ons meer inligting het, sal ons dit onmiddellik deel.”
Heindrich Wyngaard, voorsitter van Kaapse Forum, sê ook in die brief: “Ons glo die gemeenskap het die reg om op hoogte gehou te word spesifiek sodat aannames nie gemaak sal word oor moontlike verdagtes nie of sodat vingers nie na onskuldige mense gewys word nie.





