Statisties sal een uit elke 27 Suid-Afrikaanse vroue in hul leeftyd deur borskanker geraak word. “Vroeë opsporing beteken tydige ingryping. As dit vroeg opgespoor word, is borskanker hoogs behandelbaar, en hier is waar openbare bewustheid regtig nodig is. Mammogramme en selfondersoeke is so belangrik omdat ’n vroeë diagnose, tesame met die groot vordering wat gemaak is in die behandeling van borskanker, beteken dat borskanker oorwin kan word,” sê Benn.
Benn, wat die internasionaal erkende Netcare Milpark Borssorgsentrum van Uitnemendheid (BCCE) in Johannesburg gestig het, sê dat vroue nou baie beter gesondheidsuitkomste het as dié wat in vorige geslagte gediagnoseer is. “Soos ons al hoe beter raak met die behandeling van borskanker, hoef ’n diagnose nie radikale chirurgie te beteken nie. Trouens, sewe uit 10 vroue wat met borskanker gediagnoseer word, benodig nie ’n mastektomie nie.”
Sy verduidelik dat hoewel baie mense dink hulle is by lae risiko omdat hulle geen geskiedenis van borskanker in hul familie het nie, 60% van vroue wat gediagnoseer word, geen identifiseerbare risikofaktore het nie. “Borskanker kan enigiemand raak, van jong meisies tot bejaarde vroue en mans ook,” sê sy.
Benn bestuur Afrika se eerste en enigste Netcare borssorgsentrum wat geakkrediteer is deur die Amerikaanse Kollege van Chirurge se Nasionale Akkreditasieprogram vir Borssentrums (NAPBC) en by Netcare Milpark-hospitaal geleë is. Die hoogs gerespekteerde sentrum is een van slegs drie eenhede buite die Verenigde State van Amerika wat volle akkreditasie deur die NAPBC ontvang het, wat beteken dat die Netcare Milpark BCCE beskou word as op die vlak van sorg gelykstaande aan soortgelyke top-eenhede in die VSA.
“Die voordeel van ’n span van interafhanklike, verantwoordbare gesondheidspraktisyns wat met ’n gemeenskaplike doel optree, is eenvoudig dat dit die beste manier is om ons pasiënte eerste te stel en hulle die volle prentjie van hul toestand en die opsies beskikbaar te bied,” sê Benn.
Benn sê dat met groter bewustheid en die vooruitgang in borskankerbehandeling, daar meer ruimte vir hoop en minder rede vir vrees is as ooit tevore. “Moet asseblief nie bang wees as jy ’n knop voel nie. Moet nie bang wees om vrae te vra of selfs ’n tweede opinie te vra nie. Dit is jou liggaam, nie die dokter s’n nie. Moet nie wag om mediese hulp te kry nie. Daar is nou baie goeie hulp beskikbaar. Raak betrokke by jou eie reis van hoop. Onthou dat nege uit tien vroue wat met borskanker gediagnoseer word, tien jaar later nog leef. Vandag is daar regtig soveel ruimte vir optimisme in ’n borskankerdiagnose.”
Hoe word borskanker gediagnoseer?
Hoe om borsselfondersoek te doen
As jy ’n verandering in jou bors vind, moenie bang wees nie. Maak dadelik ’n afspraak met jou algemene praktisyn, wat jou sal lei oor die volgende stappe om uit te vind of dit regtig iets is wat aandag nodig het.”





