Hawston Sekondêr se matrikulante van 2014 het onlangs hul 10-jaar-reünie gevier.
Die organiseerders sê dit het ses maande se beplanning en toewyding gekos, maar dit was die moeite werd omdat dié groep baie geheg was en steeds is. Die matrikulante van 2014 het ook talle eerstes vir die skool behaal – van hulle was onder die eerste groep graad agt-leerders wat deel was van die destydse FNB Classic Clashes terwyl ander die skoolkoerant, ’n Mondvol, op die been gebring het.
’n Reünie-komitee, bestaande uit Meagan Hendricks, Farren Gillion, Andrea Afrikaner, Chelton Arinds, Abigail Swartz, Donay Slabbert, en Samantha Botes, is gevorm om toe te sien dat al die reëlings seepglad verloop.
Hul harde werk is beloon toe die oudskoolhoof, Idy Adams, en sy vrou, Marlene, en die onderwysers Portia Kleinsmidt en Nita Fortuin hulle vir die geleentheid geprys en dit as “grand” en “smart” beskryf het.
Chelton Arinds, wat lid van die reëlingskomitee was, het gesê: “Ons is trots op almal wat deel was van die reünie en bedank almal wat dit kon bywoon. Ons hoop om oor 10 jaar iets groter en beter te laat geskied.”





