Eerste Hoop Shiraz Rosé 2024 het die titel van die 2024- shiraz rosé gewen.


Drie wynkelders in die Overberg het uitstekend by die 12de jaarlikse Shiraz SA Challenge presteer.

Die wynkelder in Gansbaai, Lomond se Lomond Single Vineyard Conebush Shiraz 2021 het onder die top-12 geval as die beste shiraz terwyl Benguela Cove Lighthouse Collection Moody Lagoon 2021 ’n shiraz-versnitwenner was. Die wenner van die 2024-shiraz rosé kom uit die stal van ’n wynkelder in Botrivier by die Van der Stelpas, Eerste Hoop. Eerste Hoop Shiraz Rosé 2024 het die titel voor die neuse van ander wynkelders weggeraap.

Finaliste en bekendes in die wynbedryf het Donderdag 15 Augustus in die Paarl vir die toekenningsgeleentheid by Simonsvlei-wynkelder byeengekom. Die hoofborg was Vinventions, wat reeds etlike jare by Shiraz SA betrokke is.

’n Paneel van vooraanstaande wynkenners, onder leiding van De Grendel se keldermeester, Charles Hopkins, het die inskrywings beoordeel. Volgens Hopkins was die paneel beïndruk met die verskeidenheid en die gehalte van die inskrywings. “Die wenners is almal puik wyne wat met vertroue die vlag van shiraz in Suid-Afrika kan dra,” sê Hopkins. “Terwyl die meeste van die 100%-shiraz-inskrywings uit die 2022- en 2021-oesjare was, het ons ook uitstekende wyne uit ouer oesjare geproe,” het hy gesê. Nasionale Shiraz-dag word vandag gevier en Shiraz SA nooi alle liefhebbers van die kultivar om nasionale Shiraz-dag saam met hulle te vier deur die wyn saam met jou ete te geniet of om dit by een van die vele wynplase te gaan proe.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article