Berene Damons van Tesselaarsdal Wines is as die beste kommersiële produsent aangewys.


Vrouemaand is verby, maar om vroue in die landbou te vier, kan nooit verby wees nie.

Die Wes-Kaapse departement van landbou het onlangs die vroue-entrepreneurs vereer en ’n paar van die vroue kom van die Overberg.

Die tema vir die prysuitdeling­, wat op 13 Augustus in Stellenbosch gehou is, was “Belê in vroue: Bespoedig die proses van geslagsgelykheid en bemagtig vroue”.

Die inisiatief om vroue in die landbou te vereer, is die hoeksteen van die landbou­departement om vroue se bydrae tot voedselsekerheid te vereer en te bevorder.

Hierdie jaar is 38 inskrywings ontvang, wat volgens die woordvoerder van die departement getuig van hoe die rol van vroue in die landbou elke jaar al belangriker word.

Die drie wenners uit die Overberg – Berene Damons, Yolande Ann van Niekerk en Natasha Williams – is baie trots op hul toekennings en almal is dit eens dat dit harde werk verg om in die manswêreld mee te ding.

Berene van Tesselaarsdal Wines is as die beste kommersiële produsent aangewys, terwyl Yolande Ann van Nitaflo in Grabouw as die beste uitvoerder aangewys is en Natasha van Signature Wines in die Overberg die ministeriële toekenning ontvang het.

By die geleentheid het dr. Ivan Meyer, die Wes-Kaapse minister van landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, die belangrikheid van vroue in landbou beklemtoon.

“Vroue is die ruggraat van ons landelike gemeenskappe. Deur in hul potensiaal te belê, bevorder ons nie net geslags-gelykheid nie, maar verseker ons ook die volhoubare groei van ons landbou-sektor,” het hy gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article