’n Voorsmakie van hoe die beplande ligte vir Hermanus gaan lyk, is onlangs by Burgundy Restaurant uitgestal.


René Hartslief is nie net bekend vir haar Langtafel-etes oor die Overstrand heen nie, maar ook vir haar inisiatiewe om die Overstrand ’n beter plek vir almal te maak en toeriste na die omgewing te lok.

Met Toerismemaand wat gewoonlik in September gevier word, het Hermanus Times dit goedgedink om by dié merkwaardige vrou meer oor haar nuwe idees uit te vind. Sy vertel opgewonde oor die nuwe “planne” vir Hermanus. “Nie net wag daar groot nuus oor die Kerstyd nie, maar daar is planne om die dorp reg deur die jaar op te vrolik.

“Na aanleiding van Stanford se sukses met hul Kersliggies, wat toeriste van heinde en ver na die mooi dorp gelok het, het ons besluit – waarom nie so iets vir Hermanus nie. Ná baie navorsing, onderhandelings en nog meer het ons die mooiste ligte gekry, wat die karakter van Hermanus saamvat, maar dit is steeds baie duur,” vertel René. “Die Kersfeesligte wat ons tans gebruik, is nie meer op standaard nie en met die nuwe ligte gaan dit nie net jare hou nie, maar gaan dit ook ’n hupstoot vir toerisme gee.”

Die maatskappy wat die ligte vervaardig, is dieselfde maatskappy wat aan die stuur van die Stanford-ligte gestaan het.

Volgens haar is die tema van die ligte van so ’n aard dat dit nie net Kersfees gebruik gaan word nie, maar dit kan opbly tot ná Paasnaweek. “Die tema is ‘onderwater’ en dit pas soos ’n handskoen by Hermanus, wat ook bekend is vir sy walvisse en onderwater-natuurlewe.”

Sy vertel verder om hierdie droom te bewaarheid, is nie iets wat sy alleen kan doen nie.

“Ons woon in die paradys – kom ons wys die res van die wêreld hoe Hermanus kan lyk. Saam kan ons dit bereik, maar om dit reg te kry, kort ons almal se samewerking. Elke inwoner, mense met vakansiehuise hier en selfs mense wat lief is vir Hermanus, kan help om hierdie droom te bewaarheid,” sê sy.

Volgens haar het sy baie planne om die ligte te koop en een daarvan is die Mayoral Longtable, wat sy vir 24 September beplan. “Dit val saam met Erfenisdag en Braaidag en gaan by die Whale Coast Mall aangebied word. Die geld wat ons daar insamel, gaan aangewend word om die ligte te koop. Hierdie gaan ’n besondere geselligheid wees met baie verrassings wat op die gaste wag. Dit is te veel om op te noem en ek kan maar net sê vir elke inwoner wat Trots Suid-Afrikaans is, wag hier ’n geleentheid wat jou trotser sal laat voel as toe ons die Wêreld­beker verlede jaar gewen het.”

As dit nie genoeg is nie, is sy ook besig om die dorp met bougainvilleas te verfraai. “Ek wil dit veral in die hoofstraat sit. Dink net hoe mooi kleurvol gaan ons dorp lyk as die pragtige bougainvilleas blom en die dorp inkleur. Ons kort skenkings daarvoor ook.”. Vir skenkings en om meer inligting oor die langtafel en die ligte te kry, bel René by 083 648 8700.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article