Leer hoe om daardie bielie van ’n biefstuk tot eksieperfeksie te braai.Foto: Lise Beyers


Dinsdag (24 September) op Erfenisdag gaan die gees-vure behoorlik brand – veral met Nasionale Braaidag wat plaasvind.

Maar vir my is dit in die somer byna elke dag braaidag. Ook nou onlangs met besoek aan my dogter en haar familie in Frankryk moes ek bontstaan soos wat ek elke dag vir my Franse familie en vriende moes braai.

Die vraag is dikwels: “Wat gaan ons braai?” En dikwels is die antwoord ’n lekker stewige stuk steak. Hiervan is daar baie snitte om van te kies en te keur.

Daar is die immergewilde T-been wat ook volgens my die nasionale biefstuk van Suid-Afrika moet wees juis omdat sy vorm herinner aan die vorm van Afrika. Dan is daar rump steak, ribeye, primerib, filet en een van my gunstelinge om heel te braai, die picahna. Hierdie is ’n gesogte stuk vleis in Brasilië en ander Latyns-Amerikaanse lande, met heerlike geur en ’n tekstuur soortgelyk aan lendeskyf (sirloin).

Maar net so lekker soos ’n goeie gehalte snit prima-beesvleis is wat tot perfeksie gebraai is, net so erg is dit as die snit verkool is en ’n binnetekstuur van ’n skoensool het.

Met hierdie paar wenke kan jy wel elke keer verseker dat jou biefstuk eksieperfeksie gebraai is.

Eerstens, kies jou vleis goed. As jy a steak oor die kole gaan braai, moet dit minstens twee en ’n half sentimeter dik wees.

Vra jou slagter ook vir ’n biefstuk wat minstens 21 dae verouderd is.

Haal jou vleis minstens een uur voordat jy gaan braai uit die yskas en braai dan by kamertemperatuur vir ’n meer egalige gaarmaakmetode.

Ná baie jare ervaring weet ek hoe gaar my steak is wanneer ek met my wysvinger daaraan druk, maar vir diegene wat onseker is, is dit ’n baie goeie aankoop om in ’n vleistermometer te belê om die binnetemperatuur te monitor – veral vir groter snitte.

Dan, moenie vooraf te veel met die vleis lol nie. Ek hou nie daarvan om enige marinade op die vleis te sit tydens die braaiproses nie. Wees versigtig met die sout. Sout trek vog uit vleis, so sout en peper jou steak net voordat dit op die braai gaan. Voeg ’n bietjie bruinsuiker ook oor die steak vir ’n pragtige karamelisering.

Dan met die braaislag is ’n diep bed gloeiende, baie warm kole noodsaaklik. Plaas jou rooster met jou biefstuklaag bo die kole.

As die steak ’n lekker stuk vet op het, soos ek verkies, dan maak ek hom eers op die vetkant staan, gesout ook, en braai dit tot ligbruin en bros.

Vir ’n medium gaar steak van so 25 mm dik, braai dit 3,5 minute per kant. En na my beskeie mening mag ’n steak eenvoudig nie gaarder as medium gaar wees nie.

Belangrik ook is om die steak te laat rus vir ongeveer agt minute nadat dit gebraai is om die sappe te behou.

As dit by ’n heel filet kom, braai elke kant van die vleis vir twee minute oor hoë hitte. Verlaag dan die hitte en braai tot die interne temperatuur 54 °C vir medium gaar bereik. Laat ook rus en sny in skywe so 25 mm dik.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article