Die aap is uit die mou. . . die spanne wat in die uitspeelwedstryde van die Sanlam-Boland se Top12-kampioenskap teen mekaar gaan speel, is Woensdag bekend gemaak.
Die kompetisie, wat as die hoogtepunt van die Bolandse klubrugbyseisoen beskou word, beloof om voort te bou op die opwinding van verlede seisoen met hope aksie, goeie mededingende spel en die ontginning van rugbytalent uit die Boland.
Die Sanlam-Boland se Top-12-kampioenskap is ook die voorloper vir menige rugbyspeler om op professionele vlak te speel. Dink maar aan spelers soos die oudspeler van Safcol, Connor Mahoney, wat deesdae vir die Griekwas uitdraf.
Vanjaar sal sewe nuwe klubs aan die Boland-Top-12-kompetisie saam met Darling, Vanrhynsdorp Eagles, Safcol, Saldanha en Robertson Town deelneem.
Die verdedigende kampioen, Safcol van Grabouw, is ook weer terug op die veld om sy titel te verdedig. Volgens Dimitri Jacobs, die voorsitter van Safcol, is hulle baie goed voorbereid om die titel te verdedig. “Die manne is oorgehaal. In elke kompetisie waaraan ons vanjaar al deelgeneem het, het ons die beker weer verower – die Overberg-uitdaging, die Saldanha-Paastoernooi en weer die Overberg-Grootuitdaagkampioenskap. Ons is positief dat ons die beker gaan verdedig, hoewel ons in ’n baie goeie groep ingedeel is. Baie sterk spanne het dié jaar deurgedring. Ons is positief dat ons ondersteuners weer soos verlede jaar agter ons sal staan – hulle was definitief ons backbone,” het Jacobs gesê.
Hermanus Times het ook na die Caledon-rugbyklub vir kommentaar uitgereik, maar teen druktyd is nog niks ontvang nie.
Borge maak ’n kompetisie soos hierdie moontlik en volgens die Boland-rugbyunie (BRU) kan hy net dankie sê aan borge soos Sanlam (hoofborg), Vumatel, Tekkie Town, Umbro en Santam asook die twee nuwe handelsmerke wat aan boord gekom het, Rainbow Chicken en Heineken.
“Ons is opgewonde om die 2024-Sanlam-Boland-Top-12-kompetisie saam met ons vennote en sleutelbelanghebbendes aan te bied. Hulle verbintenis tot die bevordering van talent en sportmangees is lynreg met die waardes van die BRU,” het Bennie van Rooi, voorsitter van die BRU, gesê.. Groep A bestaan uit Newtons, Vredenburg, Abbotsdale, Worcester Villagers, Caledon en die Vanrhynsdorp Eagles.
Groep B: Robertson Town, Safcol, Young Spurs, Darling/Porterville, Ceres en Saldanha.
Al 33 wedstryde sal regstreeks gestroom word en ondersteuners kan uitsien na ’n dag vol pret en baie pryse wat gewen kan word.





