Die Buitelewe- en Avontuur-ekspo Grabouw, wat sy buiging in November 2023 gemaak het, word op 8, 9 en 10 November weer by die skouspelagtige Elgin-Grabouw-sportklub aan die buitewyke van Grabouw gehou.
Volgens die aanbieder, André Verster van www.lrclassic.com, was dié suksesvolle uitstalling van die buitelewe- en avontuurleefstyl – waaraan talle Wes-Kapenaars gereeld deelneem en baie nog daaroor droom – só ’n groot sukses dat dit vroeër vanjaar tot die eerste Gautengse weergawe gelei het. Die Buitelewe- en Avontuurskou in Broederstroom is van 16 tot 18 Augustus by B’Sorah buite Broederstroom gehou en was ’n ewe groot sukses. “Ons tweede saamtrek hier in Grabouw beteken die ekspo-konsep het nou momentum en is vanjaar reeds meer as dubbel so groot as verlede jaar,” het André gesê.
“Die reëlings is nou gefinaliseer en die driedaagse program begin Vrydag 8 November (12:00-18:00), Saterdag 9 November van 09:00-18:00 en Sondag 10 November van 08:00-15:00.”
Dit sal allerhande buitelewe- en avontuurleefstyl-toerusting, gewone en veldrywoonwaens, 4×4-veldryvoertuie, nutsmotors en veral sportnutsvoertuie, kampeer- en ander toerusting vir ’n vakansie of leefstyl in die veld insluit.
Talle ander soorte uitstallers sal ook betrokke wees, waaronder kos-, koffie- en wynuitstallers, ’n biertuin en vele meer.
“Dit is nie net nog ’n skou of ’n vlooimark nie – dit is ’n volbloed-buitelewe- en avontuur-ekspo vir die hele gesin,” het André beklemtoon.
Die Elgin-Grabouw-sportklub is die tuiste van die Buitelewe- en Avontuur-ekspo. Hierdie pragtige perseel is sentraal geleë en is maklik bereikbaar. Die rit van Kaapstad of Worcester neem ongeveer 60 minute, terwyl die rit van Somerset-Wes, Gordonsbaai en Hermanus ongeveer 35 minute sal neem. . 4×4-eienaars kan ’n rybeurt op die bekende Grabouw-4×4-roete reg langs die skouterrein bespreek en die ekspo voor of ná die geskud besoek. Die Grabouw-4×4-roete se eienaars verkoop die kaartjies by die beginpunt van die roete.. Die volledige program is op die webblad www.lrclassic.com beskikbaar. . Kaartjies is nou aanlyn te koop by TicketPro en ook by die hoofhek. Pryse wissel van R50 tot R100.
Beperkte kampplekke is beskikbaar en kan slegs aanlyn bespreek word.





