Marianne Spamer (VLV-Hermanus), Johan Badenhorst (Voetspore), Elbe Fourie (VLV-Hermanus) en Magda Marais (voorsitter van VLV-Hermanus).Foto: Mariëtte Strydom


Die Vrouelandbouvereniging (VLV) se Hermanus-tak het Woensdag sy maandvergadering gehou en dié keer was dit nie net vir die vroue nie, maar die mans het dit net so interessant gevind.

“Ek het gedink ek kom spreek die vroue toe, maar nou het die mans dit kom spoil,” het Johan Badenhorst van die Voetspore-span gesê.

Johan, wat van die begin af by Voetspore betrokke was, het vir die gaste meer oor hul reise in Suid-Ameri­ka vertel. “Ons weet baie meer van Noord-Amerika, Europa en Australië as Suid-Amerika. Een van ons hoogtepunte met ons reis na Suid-Amerika was om met die oorlewendes van die Andes-lug­ramp van 1972 te praat en hul stories te hoor. Ons kry nie ons lewenslesse by mense soos motiveringsprekers of life coaches nie, maar by regte mense – mense soos die oorlewendes van die lugramp. Toe ek een van die oorlewen­des vra wat hy uit die ondervinding ge­leer het, het hy gesê: ‘One step at a time . . .’ ”

Johan het vir die gaste meer vertel oor hul ontmoeting met die Afrikaners wat nog in Suid-Amerika is. “Dit is wat die reise ons bied – om mense en plekke soos dié te kan er­vaar.”

Die gaste kon vrae vra en die vroue was dit eens dat Johan se dogter Nina ’n medalje moet kry om vir drie maande elke dag vir die mans kos te maak. Soos Johan sê: “Sy kan ook nie beplan nie, want ons weet nooit wat die dag vir ons inhou nie en waar ons gaan stop om ons inkopies te doen nie.”

Die maandvergadering is ook deur die sirkelvoorsitter van die Overberg-VLV, Elbe Fourie, bygewoon en soos sy dit gestel het, het sy die beste vir laaste gehou. Sy het gesê die VLV-lede is soos Smarties – “daar is verskillende kleure en geure in elke tak”.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article