Die NGK Caledon-Wes-gemeente het onlangs ’n basaar gehou en soos dit enige goeie basaar betaam, kon gaste kies en keur uit al die lekkernye.
Die immergewilde melkterte en tuisgemaakte boerewors het egter soos blits verkoop. Ook vir die kinders was daar spesiale bedrywighede.
Ds. Awie Brand sê: “Dit is die laaste groot basaar wat ons vanjaar hier hou. Ons gaan van volgende jaar af een groot basaar saam met die Moedergemeente hou omdat ons wil hê die lig moet in die hele gemeenskap helder skyn.
“ ’n Mens besef elke kerk probeer op sy eie net sy eie ding doen. Ons en die Moedergemeente onderhandel al ’n paar jaar om ’n helder lig in die gemeenskap uit te dra en ’n groter verskil te maak.”





