Hondsdolheid onder Kaapse pelsrobbe is aan die toeneem.


Die afgelope tyd hoor ’n mens van al hoe meer gevalle van robbe wat mense op strande aanval, en CapeNature waarsku die mense om ver van dié diere af weg te bly.

“Dit volg nadat hondsdolheid onder die Kaapse pelsrobbe bevestig is,” het ’n veearts gesê. Volgens die veearts is dit nie ’n nuwe verskynsel nie en is gevalle van hondsdolheid onder die Kaapse pelsrobbe verlede jaar al bevestig.

In Augustus is bevestig dat sewe mense al met hondsdolheid besmet is nadat hulle deur Kaapse pelsrobbe aangeval was.

Die Wes-Kaapse regering het ’n pamflet saamgestel om mense meer oor hondsdolheid onder Kaapse pelsrobbe in te lig asook voorsorgmaatreëls bekend te stel oor wat jy moet doen as jy dalk in kontak met ’n besmette dier was.

Volgens die inligtingstuk word hondsdolheid oorgedra deur direkte kontak met die besmette dier.

“Die direkte kontak kan enigiets wees – soos die dier wat ’n mens byt, lek, krap, ensovoorts,” het die veearts bevestig. Hy het ook mense se aandag daarop gevestig dat nie alle Kaapse pelsrobbe hondsdolheid het nie en dat jy die gedrag van die diere noukeurig moet dophou om seker te maak die dier is wel besmet.

Gerugte doen ook die ronde dat die robbe dalk teen hondsdolheid ingeënt gaan word en dat dit met die robbe wat in hawens is en naby plekke voorkom waar daar baie vakansiegangers is, gaan begin.

Volgens ’n anonieme bron is die owerhede nie seker of dit gaan werk nie aangesien dit die eerste keer is dat hulle so iets gaan probeer.

“Ons sal almal moet koppe bymekaarsit om die uitbreking van hondsdolheid onder die Kaapse pelsrobbe te keer,” het hy gesê.

Van die simptome wat wel sal toon dat die robbe hondsdolheid het, is:. Aggressiewe gedrag;. val ander robbe aan en byt hulle veral rondom hul gesig; . jaag bote en val bote aan as hulle eenkant is en nie saam met die ander kolonie robbe beweeg nie;. hap na denkbeeldige voorwerpe en snaakse rukkings aan hul lywe;. eienaardige swempatrone;. tekens van fisieke simptome soos rooi oë, skuim of kwyl om die mond.Voorsorgmaatreels:. Vermy enige kontak met robbe;. as ’n rob iemand byt, laat weet dadelik die menseredders, CapeNature by 083 236 2924 of die staatsveearts;. as iemand deur ’n rob gebyt word, was die wond dadelik met seep en water vir 10-15 minute en gaan dadelik na jou naaste hospitaal vir ’n hondsdolheid-entstof;. enigiemand wat ’n dier het wat deur ’n rob gebyt is, moet dadelik die plaaslike staatsveearts besoek en hulle inlig oor waar dit gebeur het, die soort wond, die behandeling wat ontvang is en of die dier op datum is met sy hondsdolheid-inenting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article