Dit is nou die laaste strooi wat die kameel se rug gebreek het.
Dit is hoe inwoners van Grabouw voel nadat ’n berig Sondag in Rapport verskyn het oor rowers wat die produksiespan van die Prontuit-program wat op kykNET verskyn, onlangs by die Hoërskool Grabouw se sportterrein oorval en beroof het.
Die aanbieder van die program, Kabous Meiring, vertel hulle was besig met ’n program oor klubrugby toe verdagtes hulle helder oordag oorval en van al hul toerusting en private besittings beroof het.
Die saga rakende die toestand van die sportterrein duur nou al jare lank en selfs inwoners van die omliggende buurt het al uit hul eie sak kameras by die paviljoen opgerig en herstel ook gereeld die heining wat kwaaddoeners gedurig verwyder.
Die inwoners is ook keelvol oor die toestand van die veld – veral ná wedstryde – en volgens hulle is dit ’n oogseer.
Hermanus Times het op 15 Februarie 2023 berig oor die toutrekkery oor wie vir die Hoërskool Grabouw se rugbyveld verantwoordelik is (“Nuwe hoop vir rugbyveld”).
Die voormalige onderburgemeester van die Theewaterskloof-munisipaliteit (TWK) en ook ’n inwoner van Grabouw, John Michels, het verlede jaar op sy Facebookblad gesê: “ ’n Vergadering is die afgelope week deur die TWK, die Hoërskool Grabouw en die Safcol- en Grabouw-rugbyklub gehou. Ek was self teenwoordig en dit het gegaan oor die veld in die dorp en om dit gereed te kry vir die komende ligaseisoen.”
Hy het verder genoem dat ’n samewerkingsooreenkoms tussen die skool en die TWK gesluit gaan word en dat die TWK reeds ná die vergadering ’n voorgestelde ooreenkoms aan die skool en die klubs gestuur het.
“Indien dit ooreengekom word, wat ek glo sal gebeur, gaan dit ons as die TWK toelaat om geld aan die opknapping van die veld te bestee.
“As onderburgemeester glo ek dat die ooreenkoms die komende week gefinaliseer sal word,” het hy destyds gesê.
Dit is nou al byna twee jaar vandat die beloftes gemaak is en inwoners kla die sportterrein van die Hoërskool Grabouw gaan net meer en meer agteruit.
Bekommerde inwoners en die plaaslike gholfklub het ook ’n brief aan die skool en die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) gerig oor die toestand van die sportterrein.
Die gholfklub het die kroegfasiliteite van die sportterrein gebruik asook gereeld sy prysuitdelings daar gehou, maar volgens inwoners is dit nou onmoontlik om iets by die sportterrein aan te bied aangesien daar nie eens lopende water en elektrisiteit is nie.
“Die sportterrein gaan elke dag meer en meer agteruit. Aangesien daar nie elektrisiteit is nie, kan die veiligheidskameras nie werk nie en sodoende neem misdaad ook toe.
“Wat eens ’n spogsportterrein was wat selfs al vroeër vir ’n advertensie gebruik is, is nou omtrent net bourommel.
“Ons kinders en sportspanne verdien ’n veilige plek waar hulle hul sport kan beoefen,” het ’n inwoner gesê.
Rugbyklubs
Met die Safcol- en Grabouw-rugbyklub wat die sportterrein ook vir wedstryde gebruik, is die bestuur van dié twee klubs al met rooi gesigte gelaat oor die toestande van die rugbyveld. Facebook-gebruikers en besoekers aan Grabouw braak gereeld gal oor die toestand van die veld. Die klubs het ook al op hul eie onkoste die veld probeer in stand hou deur kunsmis te gooi en dit nat te maak.
Maar met die varke, beeste en bokke wat gereeld op die veld wei, is dit ’n onmoontlike taak om die veld in ’n toptoestand te kry.
Hermanus Times het vertroulik verneem dat albei klubs die skool aan die begin van die jaar R20 000 betaal het om die sportterrein te kan gebruik. Verder het die TWK-munisipaliteit ook toegewings vir water gemaak en die klubs betaal ook ’n bedrag aan die skool as die rugbyveld vir wedstryde gebruik word.
Nou vra inwoners waarvoor die geld dan gebruik is, want die sportterrein is nou in ’n baie swakker toestand as ’n jaar gelede.
vergadering
Navrae is aan die skool gestuur, maar die skool het gesê die WKOD sal alle vrae beantwoord.
Volgens Millicent Merton, die direkteur van die WKOD se kommunikasiedepartement, is dit bevestig dat ’n vergadering tussen die skool en belanghebbende partye op 7 Oktober gehou is en dat die beheerliggaam verskeie alternatiewe op die vergadering vir verdere oorweging bespreek het, waarna dit op ’n ouervergadering in November voorgelê sal word.
Die TWK-munisipaliteit het by navraag gesê die sportterrein is nie sy verantwoordelikheid nie en bygevoeg hy is tans besig is met die opgradering van fase 1 van die Pineview-sportterrein, wat in Desember voltooi sal wees.





