Eerwaarde Patty Edwards, Celeste Matthews Wanneburgh (tannie Gertie) en Erika van Wyk saam met jeuglede van die kerk wat gehelp het om die gaste te bedien.Foto’s: Mitzi Buys


Caledon se Holy Trinity Anglikaanse kerk het Sondag 6 Oktober ’n swierige middagtee aangebied.

Die 30 tafels wat elk deur ’n gasvrou gedek is, was ’n lus vir die oog met fyn porselein en die aller heerlikste eetgoed. Soos dit ’n middagtee betaam, het baie van die gaste pragtige hoede gedra.

Die bekende en bekroonde aktrise Celeste Matthews Wannenburgh, wat veral bekend is vir haar rol as “tannie Gertie” in die televisiereeks Arendsvlei, was die gasspreker. Voor haar toespraak het gaste die geleentheid gekry om foto’s saam met haar te neem. Sy moes behoorlik bontstaan om almal tevrede te hou, maar het dit met die grootste gemak gedoen en ’n vriendelike woord en glimlag vir almal gehad.

’n Jeuggroep van die St Michaels & All Angels-kerk in Myddleton het verskeie pragtige dansitems uitgevoer. ’n Trekking is gehou waar baie gaste wat teenwoordig was, pryse gewen het.

Ter afsluiting is die gaste gevra om saam te sing en dans op Bernice West se bekende “Lyfie”-liedjie, en toe het dit behoorlik jolig gegaan.

Die middagtee was ’n geldinsameling vir die Holy Trinity-kerk.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article